Die senior kampus van Eljada-Kairos skool vir leerders met spesiale behoeftes in Oostelikeweg spog met drie nuwe klaskamers. Dit vorm deel van ’n R21 miljoen projek waartydens ʼn totaal van sewe klaskamers gebou sal word.
’n Verdere R500 000 is bewillig vir opvoedkundige benodighede in die klaskamers. Eljada-Kairos het verlede jaar ook ’n nuwe skoolbus in gebruik geneem. Daar word agt leerders in elk van die nuwe klaskamers geakkommodeer.
Elke klas spog nie net met moderne afwerkings nie, maar het ook hul eie badkamers wat vir leerders met spesiale fisiese behoeftes ingerig is. Tydens die spoggerige geleentheid is gaste deur leerders vermaak, en het elkeen se hart gesteel met hul entoesiastiese optrede.
Oud-personeellede wat Poem Mooney, voormalige skoolhoof ingesluit het, het staaltjies oor die skool gedeel.
Die skoolhoof, Hennie Baartman, het alle betrokkenes bedank vir hul baanbrekerswerk, sodat die skool steeds kan floreer en kinders met spesiale behoeftes uit die gemeenskap kan dien. (HANNES VISSER)
Groot uitbreiding by Eljada-Kairos se senior kampus
