HOEWEL die jongste bakteriologiese uitslae van watertoetse ’n merkbare verbetering in waterkwaliteit toon, moet inwoners voortgaan om water te kook voordat hulle dit drink. Die jongste watertoetse is Woensdag gedoen en uitslae is vanoggend ontvang.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die munisipaliteit, het die munisipaliteit op grond van die uitslae vertroue dat die water nie meer gesondheidsrisiko’s inhou nie, maar verplig wetgewing hulle om ’n waarskuwing aan verbruikers uit te reik oor potensiële risiko’s as water gedrink word sonder dat dit gekook is.
Mangqwengqwe sê die munisipaliteit sal voortgaan om water op gereelde basis te laat toets en sal inwoners gereeld oor die uitslae daarvan inlig.
Intussen maak ’n watersuiweringsaanleg deel uit van die munisipaliteit se toekomsplanne.
Die burgemeester, Colan Sylvester, het Dinsdag by ’n perskonferensie gesê so ’n aanleg is deel van die dorp se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (IDP), maar dat mense sal moet besef dat die bou van so ’n aanleg watertariewe op Oudtshoorn drasties kan laat styg. Sylvester het gesê sulke hoër tariewe sal opgeweeg moet word teen die noodsaaklikheid daarvan om ’n aanleg te bou, gegewe die lae frekwensie van vuil water in Oudtshoorn