DAAR is positiewe nuus oor die Oudtshoorn Munisipaliteit se inisiatief om addisionele waterbronne vir die groeiende inwonertal te vind.
Volgens die waarnemende direkteur tegniese dienste, Chris Koch, toon ’n boorgat wat die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit noord van Dysselsdorp laat sink het, sulke positiewe resultate dat dit binne die volgende paar maande deel sal word van die Klein Karoo Landelike Waterskema (KKLWS).
Die KKLWS lewer water vir Dysselsdorp en landelike watergebruikers tot by Calitzdorp.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit hoop om deur boorgate genoeg ondergrondse water te vind om die KKLWS van voldoende water te voorsien sodat die water van die Raubenheimerdam grootliks vir Oudtshoorn gebruik kan word. Een van die munisipaliteit se prioriteite is om voldoende water vir die munisipale gebied oor veral die warm somermaande te kan verskaf.
Koch sê nog vier boorgate gaan in die Vermaaksrivier gesink word. “Volgens die verwagtinge van ’n onafhanklike geohidroloog sal dié vier boorgate dieselfde kwaliteit en hoeveelheid water as die Dysseldorp-boorgat kan lewer.