Motorfietsryers genooi om aan Blanket Run vir die Oudtshoorn Diereskut deel te neem

Bikers 2016

MOTORFIETSRYERS en diereliefhebbers van die Suid-Kaap word genooi om weer op Sondag, 4 Junie, deel te neem aan ’n massa-optog om komberse en kos aan Oudtshoorn se munisipale diereskut te oorhandig. Geld wat ingesamel word, sal gebruik word om die skut se veeartsrekening te help betaal.

Verlede jaar het sowat 100 motorfietsryers en diereliefhebbers van Oudtshoorn, George, Mosselbaai en Knysna aan ’n soortgelyke optog, bekend as ’n Blanket Run, deelgeneem. Die Blanket Run word deur die Free Bikers Allegiance-klub in Oudtshoorn en die Bikers vir Liefdadigheid-Facebookgroep in George gereël.

Volgens Carin Barkhuizen van die Free Bikers Allegiance-klub word kaartjies ook vanjaar verkoop teen R50 en sluit dit koffie of tee, ’n sakwapen (badge) asook ’n inskrywing vir ’n gelukkige kontanttrekking van R1 000.

Kaartjies sal vanaf 10:30 beskikbaar wees by Pick n Pay se parkeerterrein, asook by die diereskut. Skenkings van komberse of kos kan ook by die parkeerarea ingehandig word.

Die koffie en tee sal by die diereskut bedien word.

“Ons wil graag alle bikers en diereliefhebbers uitnooi om hierdie groot dag saam met ons te kom deel.”

Motorfietsryers en voertuie vertrek om 11:00 vanaf die Engen Garage oorkant Virgin Active in George en ry tot op die parkeerterrein voor Oick n Pay op Oudtshoorn. Van daar sal almal saam verder ry na die diereskut.

• Vir navrae kan Kobus by 071 411 5098 (Oudtshoorn-omgewing) of Anton by 083 382 4510 (George en Mosselbaai-omgewing) gekontak word.