Wat gemaak met ’n positiewe Covid-geval tuis of by die werk?

MET Covid-19-infeksiesyfers wat die laaste ruk erg in ons streek klim, ontvang Die Hoorn baie oproepe en boodskappe uit die gemeenskap oor mense wat positief toets en steeds werk toe gaan.

Daar is ook oproepe en boodskappe oor mense wie se man of vrou positief toets, maar dan gaan die persoon ook steeds werk toe sonder dat hulle self getoets word, of self in kwarantyn ingaan.

Daarom het Die Hoorn ’n paar vrae aan die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid gerig – om die breër gemeenskap in te lig en te help, sonder om vingers te wys.

• Wat doen mens en hoe beveilig jy jouself as daar ’n positiewe Covid-geval in jou huis is? Is daar enige voorgeskrewe maatreëls soos bepaal deur die Departement van Gesondheid of die regering? Moet jy self getoets word, moet jy self-kwarantyn toepas, kan jy steeds werk toe of skool toe gaan?

Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid in die Tuinroete, moet iemand wat vermoed dat hulle Covid-19 het hulself isoleer en die naaste kliniek, hospitaal of plaaslike dokter skakel.

“Persone sal dan gekeur word en verwys word vir toetsing. Indien jy jouself laat toets moet jy in kwarantyn gaan tot jy jou uitslae het. Nabye kontakte soos werksmense en gesinslede in dieselfde huis moet ook dan in kwarantyn gaan indien jy positief toets. Alle persone in amptelike kwarantyn moet dit vir 14 dae doen,” sê sy, en voeg by dat jou gesondheidsorgwerker vir jou meer inligting sal gee.

“Dit is jou verantwoordelikheid om te keer dat ander aansteek deur jou masker tuis te dra, gereeld jou hande te was asook oppervlaktes waaraan jy raak en in ’n aparte kamer te bly indien moontlik. Indien jy nie tuis kan kwarantyn of isoleer nie, het ons kwarantyn- en isolasie-fasiliteite waar pasiënte veilig kan bly,” het Ferreira gesê.

• Wat doen jy as jou kollega of iemand by jou werk positief toets, of selfs net in kontak was met iemand wat positief getoets het?

Ferreira het gesê dat in so ’n geval alle nabye kontakte geskakel word deur die gesondheidspan van die sub-distrik.

“’n Nabye kontak is iemand wat meer as 15 minute of binne 1 m in die geselskap van iemand was wat positief getoets het, of iemand wat saam jou in die huis bly. Dis belangrik dat almal wat siek voel, by die huis bly en dat almal altyd hul maskers by die werk dra,” het sy gesê.

• Wat doen mens as jy weet van iemand wat positief getoets het vir Covid-19, maar steeds aangaan in die samelewing asof niks fout is nie, en hulself nie isoleer nie? Kan mens so iemand, of besigheid, of skool rapporteer? Wat kan met so ’n persoon, wat positief getoets word of in aanraking met ’n positiewe geval was gebeur indien hulle ander bewustelik of onbewustelik aansteek?

Volgens Ferreira is almal verantwoordelik om die verspreiding van Covid-19 te beperk. “Dit is met daardie ingesteldheid dat ons die situasie met groot omsigtigheid en deernis moet benader. As jy die persoon / persone wat nie aan riglyne of vereistes voldoen nie, kan betrek, doen dit op ’n ondersteu­nende manier met die doel om daardie persoon / persone sensitief te maak vir die behoefte aan verande­ring in hul gedrag.

“As jy nie daartoe in staat is nie, of onseker is oor hoe om daardie persoon(e) te betrek, is jou ander opsie om jou naaste gesondheidsfasiliteit in ken­nis te stel,” het sy gesê.

Ferreira sê dat die Departement Gesondheid in so ’n geval ’n gemeenskapsgesondheidswerker sal uitstuur om met die persone te gesels.

“Indien onsuksesvol sal ander rolspelers soos die SAPS ingeroep word. Daar is ook wetlike pro­sesse wat geneem kan word om die persoon for­meel aan te kla en krimineel te vervolg,” sê sy.

Ferreira het die dra van lapmaskers, die handhawing van sosiale afstand van 1,5 m tussen mense, en die gereelde ontsmetting van hande as “uiters belangrik” bestempel. (Deur Stefan Skapie Goosen)