Hoe bly jy warm tydens beurtkrag?

DIT is bitter koud buite en nou het Eskom besluit om ook nog beurtkrag toe te pas!

Ons was tot dusver gelukkig om beurtkrag gedurende die dag te hê, maar wat doen jy as dit in die aand plaasvind?

Dit is makliker as jy weet daar gaan beurtkrag toegepas word, want dan kan jy jouself voorberei.

Maak jou warmwaterfles en warmwatersak vol voordat die krag afgaan.

Ander toestelle om te gebruik om warm te word:
• Gasverwarmer
• Houtstoof
• Kaggel/braai

Maar wat maak ’n mens as jy nie een van bogenoemde items het nie?

• Trek vir jou warm aan. Die goue reël is mos: as jou voete en kop warm is, bly jou lyf makliker warm!

• Probeer voorts in een vertrek bly en hou die deur toe om die koue van die res van die huis uit te hou.

• Geniet ’n warm drankie, mits jy vooraf jou warmwaterfles volgemaak het. Dié wat ’n gasstoof besit, is so gelukkig dat hulle ter eniger tyd water kan kook.

• Keer dat koue lug die huis binnedring deur ’n opgerolde handoek by die voet van ’n toe deur te sit. Dit verhinder dat koue onder ’n deur inkruip.

• Sit naby mekaar onder dieselfde kombers om mekaar warm te hou, of gaan maar andersins vroeg bed toe.

Selfs al het jy ’n kragopwekker kan jy nie jou verwarmer of enige toestel met ’n element gebruik nie, want die verwarmer/element trek baie krag.
Maak net seker jy bly warm! (Deur Heinrich Bosman)