Die SAPD en staatsinstellings het nie meer die kapasiteit om almal in landelike gebiede se veiligheid te verseker nie, maar die Grondwet en Polisiewet laat inwoners toe om hulleself te organiseer en te beveilig.
David Olivier, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Suid- en Oos-Kaap, het Dinsdagaand (18 Augustus 2020) inwoners by ’n inligtingsvergadering oor veiligheidstrukture op Oudtshoorn toegespreek oor die roete om te volg om die nodige veiligheidstrukture te vestig en oor die voordele wat dit vir buurtwaglede inhou.
Volgens hom moet strukture binne die wet optree en lede moet weet hoe om op te tree en ook wanneer en hoe om byvoorbeeld arrestasies te doen.
Buurtwag- en plaaswagopsies is voorts aan rolspelers in die landbou en straatkomitees verduidelik.
Die eerste aspek wat hanteer is, was ’n verduideliking waarom mense betrokke moet raak by veiligheidstrukture.
Die SAPD het tans sowat 193 000 lede en privaat-sekuriteitfirmas naastenby 500 000 lede om inwoners se veiligheid te probeer bewerkstellig.
Volgens Olivier is sowat 38% van plaasaanvalle in die Wes-Kaap volgens statistiek van TLU SA gewelddadig en in die Oos-Kaap sowat 60%.
Die onderwerp van grondbesetting het ook ter sprake gekom.
Volgens Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson wat ook die vergadering bygewoon het, word daar tans 25 stukke grond onregmatig beset, maar mag daar met die inperking geen aksie geneem word om besetters te verwyder nie.
Die wet bepaal voorts dat alternatiewe huisvesting aan besetters verskaf moet word indien hulle verwyder word.
Olivier het gesê die volgende stappe moet gevolg word wanneer mense jou grond betree om dit te stop voordat strukture opgerig word.
• Indien iemand jou grond betree, gaan dadelik na jou naaste polisiekantoor en lê ’n klag van betreding. Maak seker jy kry ’n saaknommer.
• Kontak AfriForum vir bystand.
• Indien die SAPD nie optree nie en jou grond beset word, kan jy die koste van die hofbevel en die Rooimiere van die SAPD terugeis, aangesien dit op pligsversuim neerkom.
Olivier kan gekontak word by 066 487 6810 of per e-pos by david.olivier@afriforum.co.za. Alternatiewelik kan Arno Greyling, AfriForum se streekskoördineerder vir die Suid- en Oos-Kaap gekontak word by 066 486 7611 of per e-pos by arno.greyling@afriforum.co.za. (Deur Heinrich Bosman)