DIE opheffing van die verbod op alkoholverkope die week is goeie nuus vir die Wes-Kaapse landbousektor, sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, veral in die lig van die waarde wat die wynbedryf as werkskepper en verdiener van buitelandse valuta tot die ekonomie toevoeg.
“Ons vertrou dat die wynbedryf nou kan begin herstel en dat die regering vir die duur van Covid-19 nie weer sal kyk na regulasies wat die poten-siaal het om ’n totale bedryf lam te lê nie,” sê hy.
Die oorlewing van die wynbedryf is nou weer moontlik, sê Andricus van der Westhuizen die DA in die Wes-Kaap se woordvoerder oor landbou.
Hy sê die wyn- en landboubedryf in die Wes-Kaap kan nou ’n sug van verligting slaak na die aankondiging van pres Cyril Ramaphosa.
“Die opheffing van die verbod sal kan bydra tot die vermindering van potensiële verliese van R1 miljard in die wynbedryf. Die verbod het ’n verlammende uitwerking gehad op wynboere, hul werknemers en die hele voorsieningsketting.
“Daar is bereken dat meer as 80 wynkelders en 350 produsente van wyndruiwe oor die volgende 18 jaar hul besighede sou verloor, met 21 000 potensiële werksverliese regoor die bedryf.
Plaaslike wymakers gesels
• Carel Nel, eienaar en wynmaker van die veelbekroonde Boplaas Familiewingerde in Calitzdorp, sê die nagevolge van eerstens die droogte in die Klein Karoo en toe daarna die koronavirus het ’n ernstige uitwerking op die bedryf gehad, iets wat nie oornag herstel kan word nie.
“Ons is baie verlig dat die alkoholverbod opgehef is, maar daar is baie dinge wat ons nou sal moet uitsorteer. Ons ervaar dat daar nou bottelnekke ontstaan het. Baie plekke werk die laaste ruk slegs halfkapasiteit en ons is onseker oor byvoorbeeld hoeveel wyn jy nou kan bottel, sal daar voldoende etikette gedruk kan word, bottels beskikbaar wees, ens.” Hy sê die uitvoer van wyn by die Kaapse Hawe lewer ook groot probleme op.
“Een van ons groot probleme is egter dat daar steeds nie internasionale besoekers na ons kelders kan kom nie, juis ’n mark wat ons altyd baie goed ondersteun het. Daai mark het dus tans weggeval.
“Ons ervaar ook dat die kooppatroon van mense begin verander en dat hulle eerder aanlyn koop en waarskynlik minder ons restaurant sal begin besoek. Dit wil voorkom of mense dalk bang is om die kelders te besoek.”
• Jacques Conradie, wynmaker van Karusa Wynkelder in Schoemanshoek buite Oudtshoorn, sê Karusa se inkomste is meer as 80% afhanklik via hul kelderdeur en restaurant, asook van gastehuise en plaaslike restaurante.
“Die verbod op die gasvryheidsbedryf – veral ten opsigte van Oudtshoorn – wat die sluiting van ons grense vir buitelandse besoekers betref, gaan nog ’n enorme negatiewe invloed op ons dorp hê.
“Wat die verbod ook weer eens aan ons geïlustreer het, is die absolute interafhanklike wisselwerking tussen verblyf- en aktiwiteitbesighede in en om ons dorp. Dit is ’n fyn gebalanseerde ‘eko-stelsel’ wat nou totaal deur die regering omver gewerp is.
“Die regering gaan beslis die verlies aan aksynsbelasting en BTW-inkomse voel weens die drank- en sigaretverbod – dit sal oorspoel in ’n tekort aan staatsinkomste en ’n verhoging in persoonlike en ‘sondebelasting’ binne die volgende 12 maande. Die uitkringeffek van die verbod is enorm en die effek op die drankbedryf se waardeketting gaan nog lank na suur druiwe proe.”
• Boets Nel, mede-eienaar van De Krans in Calitzdorp sê die afgelope drie maande se verkope wat daarmee heen is, sal nie weer ingehaal word nie.
“Ons het tans genoeg voorraad, maar die uitdaging is dat ons dit net vier dae per week mag verkoop – van Maandag tot Donderdag.
“Mense kom tradisioneel ons kelder oor naweke besoek. Hulle kan hier by ons deli iets eet en ’n glas wyn drink en ook van ons wyne proe, maar daarna mag hulle nie van ons voorrraad koop nie omdat dit naweek is. Ons probleem is dat ons net vier dae van die week kan verkoop. Dit maak nie sin nie.”
Boets sê daar is as gevolg van die afgelope maande se verbod ’n groot oorskot in die wynbedryf, en groot potensiële verliese vir die wynbedryf.
• Die nasionale wynkompetisie vind volgens wynmakers oor die algemeen, later vanjaar plaas as gevolg van die pandemie. Omdat die inskrywingsfooi vir die kompetisies oor baie hoog is, is plaaslike wynkelders gedwing om minder wyne in te skryf. (Deur Liesel le Roux)
