DIE samewerkingsooreenkoms tussen die DA, Icosa, Sarco en die EFF wat sedert 4 Augustus verlede jaar in die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit gegeld het, is daarmee heen.
Daar is ook ’n moontlikheid dat die Groter Oudtshoorn op Vrydag ’n nuwe burgemeester en speaker kan kry met ’n nuwe alliansie van partye wat die dorp tot met die plaaslike regeringsverkiesing oor ’n paar weke sal beheer.
Mosies van wantroue in die DA-burgemeester, Chris Macpherson, en DA-speaker, Julia le Roux, is reeds verlede week deur raadslid Vlancio Donson (Icosa) ingedien met raadslede wat ook versoek het dat ’n spesiale raadsvergadering Vrydag gehou word. By dié vergadering sal waarskynlik oor die mosies gestem word.
Macpherson het Maandag tydens ’n inligtingsessie vir die media aandag geskenk aan kwessies wat die laaste weke op sosiale media geopper word, onder meer ook dié mosies van wantroue.
Volgens Macpherson het ’n meerderheid raadslede vir die raadsvergadering gevra. Hy het gesê hoewel dit vir hom vreemd is dat wantrouemosies so kort voor ’n plaaslike regeringsverkiesing ingedien word, hy die demokratiese proses respekteer.
Uitspraak van Hooggegeregshof vandag verwag
Ten opsigte van ’n dringende aansoek wat die munisipaliteit verlede week by die Hooggeregshof ingedien het nadat Walter Hendricks (’n voormalige direkteur gemeenskapdienste van George) op 27 Augustus deur Icosa, Sarco, die EFF en die ANC as waarnemende munisipale bestuurder van Oudtshoorn aangestel is, het Macpherson gesê die munisipaliteit het geen ander keuse gehad nie omdat die aanstellingsproses munisipale wetgewing oortree het.
Regter Nathan Erasmus sal na verwagting van-dag uitspraak gee in die saak.
Volgens Macpherson is daar baie duidelike voorskrifte oor prosesse wat gevolg moet word om ’n munisipale bestuurder, die mees senior bestuurs-pos by ’n munisipaliteit, aan te stel en is dit beslis nie gedoen nie. Dit kan finansiële gevolge vir die munisipaliteit inhou, sê hy.
Die munisipaliteit se regsverteenwoordiger in die saak is Christo van der Bergh.
Twee regsverteenwoordigers vir munisipaliteit?
Die munisipaliteit het intussen klaarblyklik in ’n situasie beland met twee regsverteenwoordigers wat opdrag gegee is om namens die munisipaliteit op te tree.
Macpherson sê die onderburgemeester, Gaven Juthe, het as “waarnemende burgemeester” ook ’n prokureur aangestel om namens die munisipaliteit op te tree toe Macpherson verlede Maandag ’n vergadering met die premier en ander burgemeesters by Goudini bygewoon het en ook met ’n groep moontlike beleggers in Oudtshoorn vergader het. Volgens hom was hy die hele tyd beskikbaar en was dit nie nodig dat ’n waarnemende burgemeester in sy plek optree nie.
Die prokureur wat aangestel is, is volgens Macpherson nie op die munisipaliteit se goedgekeurde paneel van regsverteenwoordigers nie.
“’n Raadslid mag nie inmeng met die administrasie en opdragte gee wie aangestel word nie. Net ’n munisipale bestuurder kan die opdrag gee om ’n prokureur aan te stel en doen dit in opdrag van die huidige burgemeester.”
So lyk burgemeesterskomitee tans
Macpherson sê hy het Donson en Juthe intussen uit hul portefeuljes in sy burgemeesterskomitee verwyder omdat hul partye nie meer saamwerk nie. Volgens hom is Juthe in sy kapasiteit as onderburgemeester steeds lid van die komitee, maar is die ander lede van die komitee, Hendrik Botha (korporatiewe dienste), Johan Fourie (tegniese dienste), George Kersop (finansies) en Noluthando Mwati (strategiese dienste), almal DA-raadslede. (Deur Liesel le Roux)