’N WIT Toyota-bakkie wat Saterdagoggend in Ladismith gesteel is, is na flink optrede van die George Misdaadvoorkomingseenheid later dieselfde dag in George se middedorp gevind.
’n 39-jarige man van Hoekwil naby George is in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het polisiebeamptes Saterdagmiddag ’n ryloper in Knysnaweg opgemerk wat voldoen het aan die beskrywing van die beweerde bakkiedief.
Hulle het die man ondervra waarna hy hulle na George se middedorp geneem het en die geparkeerde bakkie uitgewys het.
Die man sal die week na Ladismith SAPD se selle oorgeplaas word om in die landdroshof in Ladismith te verskyn op ’n aanklag van die diefstal van ’n voertuig. (Deur Liesel le Roux)
Ladismith se bakkiedief in George vas
Die bakkie wat Saterdag op Ladismith gesteel is en op George teruggevind is. Foto verskaf