INWONERS van informele nedersettings in die Groter Oudtshoorn sê hulle is ontsteld oor die manier waarop die Oudtshoorn Munisipaliteit hul griewe ignoreer, en ook oor die chemiese toilette in hul gemeenskappe wat tans oorloop.
Hulle sê hul geduld is op, en nes die toilette waarmee hulle moet leef, loop hul woede ook oor.
Die ontevredenheid volg nadat die tender vir die 854 chemiese toilette in informele nedersettings vroeër vanjaar aan ’n nuwe verskaffer toegeken is. Inwoners het aan Die Hoorn gesê hulle is ontsteld dat die vorige diensverskaffer die tender verloor het, en is vasberade om geen diensverskaffers, toe te laat om hul gemeenskappe te betree nie.
Top Loos was die afgelope meer as 10 jaar die verskaffer, maar na afloop van hul kontrak wat einde Augustus verstryk het, is die nuwe tender vir die volgende drie jaar aan Bidvest toegeken. Top Loos moet nou hul toilette verwyder, terwyl Bidvest ander toilette moet inbring. Hoewel Bidvest die toilette van Top Loos wou oorneem, kon die twee verskaffers klaarblyklik nie ’n ooreenkoms bereik nie.
Volgens van die inwoners is hulle bekommerd oor die toestand van die nuwe toilette wat hul sal ontvang, en oor tydelike werksgeleenthede soos by die vorige verskaffer.
Hoofman Andrew Damons, lid van die Wyk 8-nedersettingskomitee en ’n woordvoerder van die groep, sê hulle wag nog op terugvoer van die munisipaliteit nadat hulle op 26 Augustus ’n memorandum aan die munisipaliteit oorhandig het.
Hy sê dat die gemeenskappe betrokke nou waarskynlik “self ’n plan sal moet maak”.
“Totdat die munisipaliteit vir ons reaksie gee en intree sal ons geen diensverskaffer toelaat nie. Ons gaan nou self, soos in die ou dae, gate grawe en die toilette daarin leegmaak, so veilig moontlik. Omdat die munisipaliteit nie vir ons luister, of ons selfs eers deel maak van besluite wat ons lewens affekteer nie, leef ons nou in erger toestande as tevore. Dit is ’n groot gesondheidsrisiko vir die gemeenskap.”
Ntobeko Mangwengwe, woordvoerder van die munisipaliteit, het egter gister gesê terugvoer is reeds op 3 September per e-pos gestuur.
Phillip Olivier, ’n direkteur van Top Loos sê die gemeenskappe weier om hom toe te laat om sy toilette te verwyder. Hy het tans meer as 700 chemiese toilette wat hy nog moet verwyder.
George van Rensburg, wat betrokke is by Bidvest, het op navraag gesê hy is nie gemagtig om met die media te praat rakende dienslewering aan die gemeenskap nie.
‘Laat diensverskaffers toe om diens te lewer’
Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, het Maandag ’n beroep op inwoners van informele nedersettings gedoen om die verskaffers van chemiese toilette toe te laat om vir hulle ’n diens te lewer.
Hy was bewus van bewerings dat toilette vol is omdat dit as gevolg inwoners se optrede nie gediens kan word nie.
Volgens Macpherson was Bidvest se tender die goedkoopste en is dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid om uitgawes waar moontlik te beperk.
Hy sê die munisipaliteit verwag dat diensverskaffers aan wie munisipale kontrakte toegeken word, hul kontrakte sal eerbiedig, al moet hulle ’n proses volg om polisiebegeleiding te kry. “Andersins verbreek hulle hul kontrakte.”
Hy sê raadslede en amptenare kan ook nie by die dienslewering deur verskaffers inmeng nie
Hy het bygevoeg hy hoop dat die twee verskaffers met mekaar sal saamwerk sodat die oorgang vlot sal verloop.
“Anders is dit die publiek wat skade ly.”
• Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, is die verskaffing van goeie diens en die handhawing van standaarde in die informele nedersettings, een van die belangrikste prioriteite van Oudtshoorn Munisipaliteit.
“Enige diensverskaffer wat deur hierdie instelling deur die verskaffingsbeleid (supply chain management) aangestel is, sal aanspreeklik gehou word vir diens gelewer.
“Ons vertrou dat die inwoners van die informele nedersettings ons oë en ore sal wees om seker te maak dat hulle goeie diens ontvang.”
Volgens Mangqwengqwe is die nasionale ratio vir toilette vyf huishoudings per toilet.
Die munisipaliteit het die nasionale standaard oortref, het hy gesê. (Stefan Skapie Goosen en Liesel le Roux)
Verskaffers moet kontrakte eerbiedig, sê burgemeester
Inwoners van ’n nedersetting op Oudtshoorn jaag van Bidvest se voertuie Vrydag uit hul gemeenskap. Foto: Stefan Skapie Goosen