‘Drank en dwelms die brandstof in die kar van misdaad’

Lisa Cremer, die distrikshof-beheeraanklaer, op Oudtshoorn. Haar werk is ’n roeping, sê sy. Foto verskaf

DIE distrikshof is die worsmasjien van die straf-regstelsel, verduidelik Lisa Cremer, Oudts­hoorn se distrikshofbeheeraanklaer. “Alles begin in die distrikshof – ons hanteer borgaansoeke, moniteer ondersoeke saam met speurders. Ons han­teer sake soos diefstal en opsetlike saak­be­skadiging waar die waarde onder R60 000 is. Erns­tige sake soos moorde en verkragting weer word na die streekhof oorgeplaas.”

Cremer het Die Hoorn onlangs ’n bietjie insig gegee in haar dagtaak en die komplekse kwessies waaroor daagliks besluite geneem moet word.

Sy vertel die meeste sake waarmee hulle op Oudtshoorn te doen kry, is ekonomiese of ge­weldsmisdade. Ekonomiese misdade sluit huisbraak, diefstal en bedrog in, terwyl gewelds­misdade gaan oor sake soos roof, aanranding, poging tot roof, moord en besker­mingsbevele.

Op Oudtshoorn is huisbrake ’n groot probleem, terwyl bedrog, interessant genoeg, skaars is. In 90% van dié gevalle speel drank en dwelms ’n rol.

“Ons het die impak van dwelms en drank eers waarlik gesien toe gewapende rowe, moorde en verkragting onder die streng inperking van vlak vyf toe alkohol ook verbode was, drasties geval het. Ek praat onder korreksie, maar dink in die he­le eerste maand was daar nie een verkragting nie.

“Drank en dwelms is regtig die brandstof in die kar van misdaad. As ons dit onder beheer kan bring, sal ons dorp anders lyk.”

Volgens Cremer is die feit dat daar geen infrastruktuur of dwelmrehabilitasiesentrum op Oudts­hoorn is waar mense met verslawing bygestaan kan word nie, ’n massiewe leemte.

“Daar sal opgetree moet word, mense sal betrok­ke moet raak om hier te probeer help.

“Die waglyste by plekke waarheen mense van hier af gestuur moet word, is twee, drie, vier jaar lank. Die kwessie het ons almal se fokus nodig, maar ook van mense soos beraders en pastore.”

Cremer sê haar werk is vir haar ’n roeping. Sy het van jongs af geweet wat sy graag eendag wil doen: “As ’n tiener het ’n TV-program van ’n aanklaer in Amerika my verskriklik geïnteresseer.”

Sy het ná skool aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg begin studeer. Ná haar eerste jaar het sy ’n beurs van die Departement van Justisie gekry om met haar studie by Unisa voort te gaan. Sy het terselfdertyd in ’n landdroskantoor begin werk. “Ek het op grondvlak begin as klerk van die hof, en daarna begin opbeweeg en ’n aanklaer geword. Ek het die hele tyd gewerk terwyl ek verder gestudeer het.”

Sy het haar loopbaan in Pretoria begin. Daarvandaan is sy Witbank toe waar sy as klerk van die hof gewerk en ’n spesiale volmag ontvang het om te begin aankla, al het sy nog nie haar eerste graad voltooi nie. Daarna is sy Bethal toe.

Dit was ’n ongelooflike geleentheid, sê sy. Sy het die B Iuris-graad in 1996 en LLB in 2000 verwerf. In 1996 het sy as distrikshofaanklaer begin werk en ook agt jaar streekshofondervinding in die periodieke streekshof opgedoen. Sy het ook haar man, Nic, op Bethal ontmoet.

In 2012 het sy aansoek gedoen vir die beheerpos op Oudtshoorn en so in die Klein Karoo beland. Nic werk as speurder op Oudtshoorn en hulle het drie kinders, Joshua (18) wat vanjaar in matriek is, Alïyah (14) en Enyah (11).

Haar beroep pas haar duidelik soos ’n handskoen. Sy vertel: “Ek het altyd gevra hoekom. Ek was altyd ’n ondersoekende mens.

“Die Nasionale Vervolgingsgesag het ’n sif­tings­protokol waarvolgens ons besluit watter sake hof toe gaan en watter nie.

Daar is dus sekere dinge wat ons moet oorweeg voordat ’n saak hof toe kan gaan. Ons kan nie sake hof toe stuur wat nie ’n redelike kans op suksesvolle vervolging staan nie.”

Sy sê die Covid-19-pandemie het boonop ’n groot agterstand veroorsaak toe sake tydens vlakke 5 en 4 nie kon voortgaan nie. Nou is hofrolle oorvol en moet sake geprioritiseer word.

“Ek dink daar is dikwels ’n wanopvatting by mense oor besluite wat ons neem. Dit is baie moei­lik vir mense wat nie die regstelsel ken nie om te bepaal wat die kans op suksesvolle vervolging is en wat is nie.

“Mense moet besef ons aanklaers in Oudts­hoorn het ’n liefde vir ons werk en vir die ge­meenskap. As ons ’n moord- of verkragtingsaak kry, is dit vir ons hartseer, as ons kinders kry wat aangerand is, is dit vir ons hartseer.

“Ons neem nie net meganiese besluite nie. Ons as aanklaers is mense wat hard werk en ’n verskil wil maak.”

Sy sê sake kan byvoorbeeld dikwels nie voortgaan nie omdat ’n getuie nie wil getuig of mense nie beskikbaar is nie. Daar is ook ’n tekort aan speurders wat weer groot druk op hulle plaas.

“Ons deure moet egter altyd oop wees vir navrae, ons moet voortgaan om altyd deursigtig te probeer wees in hoekom ons besluite neem.”

Vir Lisa is haar geloof as Christen “eerste en alles” in haar lewe.

Sy sê wanneer sy nie werk nie, bestee sy graag tyd saam met haar kinders, en is dit haar stokperdjie om die Bybel in die oorspronklike Hebreeus en Grieks te ondersoek. (Deur Liesel le Roux)