DIE herstel van slaggate in Oudtshoorn se paaie en die instandhouding en herstel van straatligte is as ’n prioriteitsprojek deur die munisipaliteit geïdentifiseer, met die munisipaliteit se departement tegniese dienste wat mik om alle slaggate teen einde Oktober 2021 te herstel, terwyl die vervanging van straatligte reeds afgeskop het.
Volgens Justin Lesch, direkteur tegniese dien-ste, is Wesbank as ’n kritieke beginpunt van die projek geïdentifiseer. “Omdat waterpype in party strate ook opgegradeer moet word, sal projekte saam aangepak word om duplisering en koste te bespaar.”
Hy sê die munisipaliteit herstruktureer tans hul strategie ten opsigte van voorkomende instandhouding en werk om so beskikbare hulpbronne doeltreffender te benut. “Daar is ’n dramatiese toename in die instandhouding van infrastruktuur as gevolg van hoe dit histories onderhou is. Pro-aktiewe weeklikse werkskedules sal byvoorbeeld voorsiening maak vir onmiddellike agterstande in alle gebiede.”
Volgens Lesch verg dit deesdae heelwat logistiek om te verseker dat diensleweringsdoelwitte binne die beskikbare tydsraamwerk en hulpbronne gehou word. “Die enigste manier waarop ons die werklas sal kan hanteer, is om slimmer te werk!”
Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, het ’n beroep op inwoners gedoen om slaggate en stukkende straatligte by 044 203 3090/3086 aan te meld. (Deur Liesel le Roux)
Slaggate, straatligte getakel
