Dié leerkrag is die Wes-Kaap se beste!

Regs: Ashleigh Taljaard met haar toekennings. Foto verskaf

Ashleigh Taljaard, graad 2-onderwyser by Laerskool Van Reede, is pas aangewys as die beste laerskoolonderwyser in die Wes-Kaap, en die goeie nuus is dat sy hier, op Oudtshoorn, skoolhou!

Sy sê dit is vir haar ’n groot eer om as die Wes-Kaapse Onderwysdepar-tement (WKOD) se provinsiale wenner vir uitnemendheid in laerskool- onderrig aangewys te word (provincial winner for excellence in primary school teaching).

Die toekenningseremonie vir die Wes-Kaapse been van die jaarlikse Nasionale Onderwystoekennings, het verlede Vrydag (3 September) by die Century City-konferensiesentrum in Kaapstad plaasgevind. Die nasionale wenners sal op 5 Oktober in Johannesburg aangewys word.

“Mense weet nie altyd watter opofferings onderwysers maak om ’n goeie leerkrag vir hul studente te wees nie. Dit voel goed om te weet dat jou harde werk waardeer word, veral in ’n beroep waar jy nie altyd baie dank ontvang nie,” sê Taljaard.

Sy voeg heel beskeie by dat sy dink dit is juis al die werk wat sy buite die klaskamer en skool-omge­wing doen wat haar laat uitstaan het.

“Ek maak videos en hulpbronne vir leerders en onderwysers regoor die Wes-Kaap, en dit is alles beskikbaar op die WKOD se e-portal op hul webtuiste, en op my YouTube-kanaal, Mrs Taljaard’s Class.”

Volgens Taljaard het sy ook die virtuele biblioteek op die WKOD se webtuiste ontwerp. Dié biblioteek word vir die #TEAMREAD-veldtog van die departement gebruik. Sy was ook al die aanbieder van twee “webinars” oor hoe om reg te lees.

“Ek kom uit ’n familie van onderwysers, en om ook een te word, was ’n natuurlike keuse vir my. Almal in my familie was hoërskoolonderwy­sers of professore by universiteite, maar ek het grondslagfase-onderwys studeer omdat ek ’n verandering wou maak waar die leerproses begin.”

Taljaard is die afgelope agt jaar ’n onderwyser en het haar graad aan die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha behaal.

Sy sê haar grootste passie en inspirasie kom van haar ouma af, wat self ’n remediërende onderwyser en kinderskrywer was. (Deur Stefan Skapie Goosen)