“Oudtshoorn Dieredag” is om die draai, en die staatsveearts en Animal Care Team (ACT) – ‘n nie-winsgewende dierewelsynorganisasie op Oudtshoorn – gaan dit vier met ‘n dag vol pret en plesier!
Op Saterdag 18 September, vanaf 09:00 tot 15:00 by die staatsveearts in Van der Rietstraat, sal Oudtshoorniete die dag saam kan geniet met iets van alles vir oud en jonk, mens en dier. Alles ten bate van Oudtshoorn dierewelsyn en ACT se sterilisasie klinieke.
Buiten gratis hondsdolheid-inentings (rabies vaccinations), en vlooi-dip en naelknip vir honde teen ‘n skamele R5, sal daar onder meer kos, lekkernye, tweedehandse goedere en speelgoed te koop wees. Die kinders kan ook saamkom, met ‘n kunstafel, towerkunsvertoning en ‘n skattejag wat hulle gaan vermaak.
‘n Unieke verrassing wag ook dié dag vir besoekers – Rudy Lombard, ‘n kunstenaar wat sy hande verloor het en met sy mond verf, gaan sy talent vir die eerste keer in Oudtshoorn ten toon stel. Lombard is lid van die Vereniging van Mond- en Voet-skilder Kunstenaars (Association of Mouth and Foot Painting Artists) in George, en het onlangs Oudtshoorn toe verhuis.
Inwoners moet die volgende onthou: alle honde moet aan ‘n leiband gehou word, alle katte moet minstens in ‘n mandjie gehou word, die dra van maskers is verpligtend, en organiseerders vra dat jy jou eie handreiniger moet saambring.
