’N MOSIE van wantroue in die Groter Oudtshoorn se ANC-burgemeester, Chad Louw, het die afgelope week die wenkbroue laat lig met vrae of daar krake in die koalisie is wat tans die raad beheer.
Die mosie is verlede Vrydag skriftelik deur raadslid Suzane Jansen van die Patriotic Alliance (PA) ingedien met die onderburgemeester, Leon Campher (Advieskantoor), as sekondant. Jansen en Campher se partye maak deel uit van die ANC-koalisie wat die Groter Oudtshoorn-raad beheer.
Die hoofsweep van die ANC, Mziwoxolo Tyatya, het Dinsdagmiddag aangedui dat die ANC ’n versoek aan die koalisievennote gerig het dat die mosie teruggetrek word. Dit het gevolg op ’n besoek deur Cameron Dugmore, regeringshoof van die Wes-Kaapse ANC, aan die munisipaliteit. Hy het tydens sy besoek met koalisievennote gepraat.
“Ons bly verbind tot die bou van ’n koalisie wat dienste aan alle inwoners van die Groter Oudtshoorn sal lewer, met ’n besondere fokus daarop om die infrastruktuur-agterstand en swak dienslewering aan die histories benadeelde gemeenskappe en landelike gebiede in te haal,” het Tyatya gesê.
Teen Woensdagmiddag het die twee koalisievennote wat die mosie onderteken het, dit egter volgens Tyatya nog nie formeel teruggetrek nie.
Navrae wat Woensdag aan Jansen, Campher en die munisipaliteit gestuur is, was teen druktyd nie beantwoord nie.
• Dugmore het Vrydag nadat die mosie van wantroue in Louw ingedien is, die raadslede van die PA en Advieskantoor van skelm gedrag beskuldig en gesê hul optrede was in stryd met die ondertekende koalisie-ooreenkoms.
“Ons is baie bekommerd dat hierdie saak nooit in die koalisiebestuurskomitee bespreek is nie en sal dié ernstige oortreding by die volgende byeenkoms van die komitee opper. Ons provinsiale leierskap sal ook die optrede van die PA-raadslid aan haar nasionale leierskap rapporteer.
“Die koalisie is daar om die gemeenskap te dien en die gebrek aan dienslewering en korrupsie van die DA ongedaan te maak. Sulke optrede ondermyn die doel van die koalisie,” het hy bygevoeg.
Nog twee mosies van wantroue ingedien
Die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, het Maandagoggend by navraag van Die Hoorn gesê die mosie van wantroue in Louw sal by die volgende raadsvergadering op 29 Junie dien saam met nog twee mosies van wantroue wat intussen ook ingedien is – een in die speaker, Colan Sylvester, en die ander in die onderburgemeester, Leon Campher.
Dié wantrouemosies is na verneem word deur raadslid Vlancio Donson ingedien. (Deur Liesel le Roux)
Wantrouemosie in burgemeester laat die wenkbroue lig
Chad Louw. Foto: Stefan Skapie Goosen
Ek is baie bekommerd dat die mosies van wantroue van die raad n Sirkus maak. Eie belang en politiek is Vir die betrokke persone meer belangrik as dienslewering en die wil van die mense. Dink die persone aan die mense wat hul tot so belangrike posisies gekies het of het hul so gou vergeet van die mandaat waarvoor hul staan . Dit is hartseer en betreurenswaardig om dit lees van persone wat die raad wil onstabiel maak. Die gewone mense ly Weens n gebrek aan dienslewring. Groot groot asseblief raadslede julle doel daar is om die wil van die mense uit te voer.