’N MAN is Sondagaand deur ’n groep jong mans – waaronder ook glo skoolkinders – in die omgewing van die Bridgton Sportgronde beseer toe hulle hom met klippe gegooi het.
Talle huise het ook onder klippe deurgeloop. Een huis in die omgewing se dak is stukkend gegooi en by ’n ander is ’n ruit gebreek.
Die beseerde was volgens inwoners in Avontuurstraat op pad terug vanaf ’n huiswinkel toe hy raakgegooi is en deur inwoners na veiligheid gehelp moes word. “Hulle kon hom doodgegooi het,” het ’n geskokte vrou gesê.
Volgens haar is die beseerde ook met ’n mes op die elmboog gesteek en intussen by die Oudtshoorn Hospitaal behandel.
Inwoners van dié gewoonlik rustige omgewing was Sondagaand egter veral ontstoke omdat die polisie nie op herhaalde selfoonoproepe van verskeie mense gereageer het om te kom help nie. Behalwe vir die talle oproepe deur verskeie inwoners na die polisie het drie inwoners, twee vroue en ’n man in sy sestigs, na die Bongolethu Polisiekantoor gestap om hulp te gaan vra, maar ook dit het geen resultate gelewer nie.
Die drie het buite die polisiekantoor voor ’n traliehek – met niemand binne agter die toonbank nie – te staan gekom. Hulle moes roep voordat iemand met hulle deur die traliehek kom praat het.
Terwyl hulle daar was, het ’n polisievangwa opgedaag om skynbaar ’n wegneemete by die polisiekantoor af te lewer. Iemand by dié kantoor het egter gesê dié vangwa sal nie kan gaan help nie omdat dit nie in daardie omgewing werk nie. Die Hoorn het intussen verneem van nog ’n inwoner wat die aand na die betrokke polisiekantoor gegaan het om hulp te vra.
Die groep jong mans wat ’n hond by hulle het, was glo Saterdagaand ook in die omgewing. ’n Woordewisseling het na verneem word toe tussen hulle en die man wat beseer is, ontstaan, vermoedelik die rede vir hul terugkeer die Sondagaand.
’n Inwoner het aan Die Hoorn gesê hulle hoor dat die groep van Vrydagaand af in talle dele in Bridgton en Rosebank “moeilikheid”gemaak het.
• Die Oudtshoorn Polisie het aangedui die aangeleentheid word tans deeglik ondersoek omdat dit gaan oor dienslewering aan die gemeenskap. “Ons gaan dus nie nou kommentaar lewer nie, maar dit ondersoek en indien nodig die nodige interne stappe teen lede neem,” het kapt Louis Visser, polisiewoordvoerder, gesê.
• Die Hoorn weerhou name op versoek. (Deur Liesel le Roux)