Snork jy of is dit slaapapnee?

Is jou gesnorkery dalk ’n aanduiding van slaapapnee? Heinrich Bosman, ’n slaapapneelyer vertel meer daaroor.

Daar is soveel vroue wat kla hul mans se ge-snorkery hou hulle wakker. (Daar is glo al meer mans wat ook kla oor hul vroue wat snork!)

As iemand baie snork kan dit egter ook ’n aanduiding wees dat jy slaapapnee het. Dit is wanneer jy ophou om asem te haal terwyl jy slaap. Dit veroorsaak dat jy nooit diep slaap nie.

Daar is twee soorte slaapapnee, naamlik obstruktiewe slaapapnee (OSA) en sentrale slaapapnee (CSA). Obstruktiewe slaapapnee is meer alge- meen en kom voor as iets die lugvloei in jou keel belemmer. Jy snak letterlik na jou asem wat dan soos ’n harde snork-snak klink en veroorsaak dat jy ophou asemhaal.

Hoe verskil apnee van gewone snork? Die drie belangrikste verskille is:

• Jy hou kort-kort op met asemhaal. Jy kan van vyf tot 30 keer of meer per uur ophou asemhaal;

• Jy word doodmoeg wakker. Mense wat normaal snork, maar goed slaap, is die volgende dag uitgerus – al is hul slaapmaat nie noodwendig uitgerus nie. Mense met apnee kom nooit in die diepslaapfase nie, juis omdat hulle kort-kort wakker word. Hulle is tipies bedags baie moeg en raak aan die slaap sodra hulle iewers rustig sit of lê; en

• Jou werksvermoë word aangetas. Weens jou breinmoegheid sukkel jy om te konsentreer, nuwe dinge te leer en om dit te onthou.

Die simptome van slaapapnee is:
• Luide gesnork
• Tydperke waartydens jy ophou om asem te haal (die eggenoot neem dit gewoonlik waar);
• Word met ’n droë of seer keel wakker;
• Hoofpyn;
• Wil kort-kort gaan urineer;
• Swak konsentrasie gedurende die dag;
• Voel slaperig gedurende die dag;
• Neerslagtigheid, geïrriteerdheid en gemoedskommelinge; en
• Verlaagde seksdrang en ereksieprobleme.

Indien jy jou slaapapnee nie behandel nie, kan dit lei tot hoë bloeddruk, beroerte, hartversaking, onreëlmatige hartklop en selfs hartaanvalle; en suikersiekte (diabetes).

As jy vermoed jy het slaapapnee, gaan sien jou dokter. Hy sal jou waarskynlik na ’n slaapkliniek verwys waar jy met moniteringstoerusting gaan slaap. Dit moniteer onder meer jou slaappatroon en hoeveel keer jy ophou asemhaal. Met jou volgende besoek sal hulle jou resultate met jou bespreek en ook behandeling vir jou voorskryf.

Die standaardbehandeling is ’n konstante positiewe lugdrukmasjien (CPAP). Jy gaan weer ’n nag by die slaapkliniek met die CPAP-masjien slaap om te bepaal hoeveel druk jy nodig het om jou keel oop te hou.

Die CPAP bestaan uit ’n gedeelte wat die lugdruk genereer soos geregistreer met jou vorige slaapsessie, die toevoerpyp en die masker.

Daar is drie soorte maskers, die neuskussing (nasal pillow), neusmasker en die volgesigmasker.

Baie mense wat die CPAP kry, sukkel om ge-woond te raak aan die masjien en masker. Dit is ’n aanpassing, maar dit is gewis die moeite werd!

Die skrywer van die artikel se ervaring van die CPAP, die masker ens, is:
“My mediese fonds het vir my R8000 vir die toerusting betaal. Ek het toe verneem van die APAP-masjien wat op ’n laer stelling begin en die druk aanpas soos nodig. Die APAP het in daardie stadium plaaslik sowat R16 000 gekos.

“Ek het eindelik self die APAP-masjien ingevoer vir baie goedkoper en ook ’n lugbevogtiger bygesit. Dit help baie met ons droë lug.

“Ek verkies die volgesigmaker. Dit help veral as jou neus toe is en jy deur jou mond asemhaal.

“Die neusmasker het nie vir my gewerk nie.

“As jy dit kan bekos-tig, sal ek die APAP-masjien aanbeveel.

“Maar maak eers seker by jou dokter. Indien jy die CPAP koop, vra die slaaptegnikus om dit eers laag te stel en dit dan te verhoog tot dit vir jou gerieflik is.”