Naomi de Villiers vier haar 101-ste verjaardag

Me Naomi de Villiers, wat op 23 Augustus 1919 gebore is, het Sondag haar 101ste verjaardag in Tuishuis op Oudtshoorn gevier!

Tannie Naomi, soos sy in Tuishuis genoem word, het Vrydag haar verjaarsdag gevier saam met die inwoners en perso­neel van Tuishuis se siekeboeg waar sy tuisgaan.

Sondag het ’n paar gemaskerde besoekers vir me De Villiers kom gelukwens, weens die Covid-19-pandemie deur die sekuriteitshek met die nodige afstand tussen hulle, en ’n blommeruiker vir haar gebring. Hulle het eetgoed gekry om saam huistoe te neem.

Maandag het die inwoners en personeel die verjaarsdagvieringe voortgesit met roomys en sjokoladevla vir nagereg. Volgens Tuishuis is me De Villiers nog gesond. Sy hou haarself besig met boeke lees, blokkiesraaisels, volwasse inkleurboeke, en doen selfs nog ’n bietjie naaldwerk.

Sy het as jong vrou onderwys op Graaff-Reinett gestudeer waarna sy 40 jaar lank skoolgehou het.

Sy onthou nog al die name van die kinders in haar klas, vandat sy begin skoolhou het.

Met haar aftrede het sy na Oudtshoorn verhuis om naby haar familie te wees, en bly al 41 jaar op die dorp, waarvan die afgelope sewe jaar in die siekeboeg. Sy is ’n bekende op die dorp.

Sy het tot voor haar opname in die siekeboeg, in haar 90’s, die dorp platgeloop, en het tot in haar 80’s gereeld gehelp met fondsinsamelingsprojekte vir verskeie instansies.