Ruim skenking vir Zoar-bejaardes

Die produktiewe Genesis-klub vir senior burgers saam met die projekleier, Jonathan Jantjies (met wit laphoedjie), en van hul donateurs. Foto verskaf

DIE Genesis Rural Development, wat hul beywer om waarde tot die lewens van senior burgers in Zoar toe te voeg, het onlangs ’n ruim skenking van Hollywood Bets My Community, ontvang, ’n organisasie wat poog om van hul inkomste terug te ploeg in behoeftige gemeenskappe.

Genesis, ’n produktiewe bejaardeklub, het tydens die pandemie besluit om iets positief van dié uitdagende tydperk te maak en terselfdertyd hul lede kreatief besig te hou, waarde tot hul lewens by te voeg en selfs ook ’n finansiële bydrae lewer.

Jonathan Jantjies, projekleier, sê hulle is baie dankbaar oor die skenking van Hollywood Bets My Community.

Die geesdrif waarmee hy oor Genesis praat, is opvallend. Die senior burgers is duidelik in be­kwame hande van mense met harte vol deernis.

Volgens hom ontvang Genesis geen befondsing van die Departement Maatskaplike Ontwikkeling nie en moet hulle dus baie skeppend oor fondse dink.

Hy sê die bestuur bedryf die organisasie met besigheidsvernuf en hou gereeld fondsinsame­lingspogings.

“Ons het ’n kosbare bate in Ouma Grietjie Barry, wat waardevolle leiding in die naaldwerk­klasse verskaf, terwyl Magdalene Fondling die leiding neem in die brei van sokkies.”

Jantjies sê hulle pas die bepalings van die grendeltydperk nougeset toe en maak ook seker dat sosiale afstand gehandhaaf word.
Die bejaardes ontvang ’n gedeelte van die inkomste van projekte as beloning vir hulle arbeid.

“Sodoende verhoog hul produktiwiteit ook,” sê hy.
Jantjies het bejaardes van die Zoar-omgewing wat nog nie by die klub betrokke is nie, aangemoedig om aan te sluit en sodoende sommer hul lewens te verryk. (Deur Deon Meyer)