Skrywer, kunstenaar en dansonderwyser

WANNEER jy met Wilmari Jooste (55), skrywer van vele romans, gesels besef jy onmiddellik dat jy hier nie net met ’n skrywer te doen het nie, maar met ’n vrou van vele talente.

Wilmari is oorspronklik van die Vrystaat, en het haar man, Japie, op Sasolburg ontmoet. Deesdae woon sy op Ladismith in die Klein Karoo.

Wanneer jy Wilmari oor haar skryfloopbaan begin pols, vertel sy dat dit in 1997 begin het met die romans Slingerpad na jou Hart en daarna Somerliefde, ’n omnibus wat in 2004 deur Tafelberg Uitgewers uitgegee is. Daar het reeds 27 boeke uit haar pen verskyn.

Die gunsteling onder haar boeke is die roman Vlug of Veg wat in 2018 deur Malherbe Uitgewers uitgegee is, terwyl sy Dertien vir Geluk as ’n treffer beskou omdat so baie eksemplare daarvan reeds verkoop is.

Wilmari is egter nie net ’n skrywer nie, maar ook die eienaar van ’n dansskool, Techdance, waar meisies verskillende dansstyle kan leer. Die dansers word ingeskryf vir ’n virtuele eksamen wat in Johannesburg beoordeel word. “Ek put groot genot daaruit om te sien hoe my dansers van platvoet tot vlinders op die dansbaan vorder!”

Nog ’n passie is decoupage, met afdrukke wat sy deur dié tegniek op klippe en blikkies maak. Sy verf ook graag op klip en stal dit by landbouskoue op verskeie dorpe uit.

Volgens Wilmari ry sy en Japie graag uitdagende roetes met hul vierwielaangedrewe Jeep. Hulle was juis onlangs na Gamkaskloof (Die Hel).

Tydens sulke uitstappies haal sy graag haar kamera uit om natuurtonele af te neem.

Dié merkwaardige vrou laat jou haar netjiese huis as ’n veel ryker persoon verlaat. Sy is ’n voorbeeld vir ander in hierdie Vrouemaand. (Deur Deon Meyer)