DIE verhoor van ’n vrou van Dysselsdorp wat van moord op haar pasgebore seuntjie byna vier jaar gelede aangekla word, het uiteindelik in die Oudtshoorn Streekhof afgeskop.
Heroldene Korkee (39) pleit onskuldig op die aanklag en sê in haar verklaring dat sy nie bewus was van haar swangerskap nie. Die kind is volgens die klagstaat in ’n toilet gebore en toe na bewering versmoor.
Daar is 14 staatsgetuies in die saak.
Sabina Mei, wat die betrokke dag, 15 Oktober 2016, volgens haar “uit nuuskierigheid” die huis van Korkee binne is om ook te gaan kyk wat aangaan nadat sy gehoor het van ’n vrou wat geboorte geskenk het, het getuig dat sy die beskuldigde op die toiletpot sien sit het.
Sy het haar nie geken nie, maar gevra of sy kan sien.
“Ek het haar gevra om eenkant toe te skuif om te sien of die baba nog leef en of ek kan help. Die baba het egter stil in die toiletpot gelê.
“Ek is daarna huis toe omdat daar niks was wat ek vir die dame kon doen nie,” het sy getuig.
Mei het ontken dat sy die beskuldigde gehelp het om op te staan.
Volgens haar sou sy die beskuldigde gehelp het na ’n bed of die vloer om geboorte te gee indien sy vroeër daar sou wees.
Jenifer Jaftha, ’n paramedikus, het getuig dat sy ook vir Korkee op die toiletpot aangetref het. Sy het haar onder die een arm gevat om haar tot by ’n bed te help en die baba toe in die toiletpot sien lê.
Korkee se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het dit aan Mei en Jaftha gestel dat hulle getuienis in die hof verskil van hul polisieverklarings.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is vir verdere getuienis tot 1 September uitgestel.
Hyron Goulding is die aanklaer in die saak. Korkee se borgtog-voorwaardes is deur die hof verleng tot met haar volgende hofverskyning. (Deur Garnett Wicomb)