Mans ’n tweede keer tronk toe gestuur na rooftog op straat

TWEE broers van Oudtshoorn, Terrance Draai (28) en Clinton Draai (23) wat vir ’n tweede keer en tydens ’n tweede hofsaak skuldig bevind is aan roof met verswarende omstandighede, is in die Oudtshoorn Streekhof onderskeidelik ses en agt jaar gevangenisstraf opgelê.

Die saak is verlede jaar na ’n suksesvolle hersieningsaansoek van voor af verhoor.

Dit het gevolg nadat die twee broers beswaar aangeteken het teen die vorige uitspraak voordat hul regsverteen­woordiger sy slotargumente gelewer het.

Die twee broers is weer daaraan skuldig bevind dat hulle op 5 Junie 2018 ’n man wat onderweg was huis toe met ’n mes gedreig en van ’n vetkoek, selfoon, R20 kontant en sy identiteitsdokument beroof het.

Slegs die identiteitsdokument is terug gevind.

Clinton Draai het ontken dat hy op die toneel was en gesê dat hy nooit met skerp voorwerpe rondloop nie.

Volgens hom was hy op parool en kon hy nie sy huis verlaat behalwe vir werk- en kerkdoeleindes nie.

Hy het glo eers in die hof gehoor van die betrokke dag se gebeure.

Sy weergawe is egter deur die hof verwerp.

Die staasaanklaer, Brandon Smith, het die hof versoek om nie van die voorgeskrewe minimium vonnis van 15 jaar af te wyk nie.

Hy het gesê die klaer het hom nie weerspreek nie en by sy weergawe gehou.

Hy ken die twee broers en kan hulle na langer as twee jaar nog nie vergewe vir wat hulle aan hom gedoen het nie.

Volgens Smith het hulle ook nie enige berou getoon nie.

Streeklanddros Sylvia Mandla het in haar uitspraak gesê die hof is tevrede dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het en dat albei beskuldigdes die klaer beroof het van sy eiendom.

Sy het vir vonnisoplegging in ag geneem dat die beskuldigdes reeds langer as twee jaar in aanhouding was, dat die goedere wat geroof is nie van baie waarde is nie en die klaer nie beserings opgedoen het nie.

Terrance Draai, wat sy broer volgens getuienis gekeer het om die klaer met ’n mes te steek, is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis terwyl Clinton agt jaar agter tralies sal moet deurbring omdat hy die klaer met ’n mes wou steek en ’n langer lys vorige veroordelings – waar­onder een vir geweld – agter sy naam het. Albei broers is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)