WAAR is ons seun Geraldo Ewerts?
Dit is die vraag waarmee Eric en Cornelia Roman van Oudtshoorn, die bekommerde ouers van Geraldo (22), steeds worstel nadat hy op 12 Augustus 2021 vermis geraak het.
“Ons seun word nou ses maande lank vermis. Daar was al berigte in plaaslike koerante. Ons het ook verlede jaar vir hom boodskappe na sy selfoon gestuur om ons te help, maar geen antwoord ontvang nie,” sê Eric Roman.
Facebook-plasings deur vriende en familie oor Ewerts se verdwyning het ook niks opgelewer nie.
Volgens Roman het ’n taxibestuurder die gesin gekontak nadat ’n berig oor sy seun se verdwyning begin September 2021 in Die Hoorn verskyn het.
Die taxibestuurder het gesê hy het Ewerts in Worcester gesien en dit by die Oudtshoorn Polisie aangemeld.
Ao Gretchen Michaels, polisie-woordvoerder, het dit bevestig. Die Worcester Polisie kon eger met geen inligting help nie.
Ewerts, van Freedomstraat in Bongolethu, is laas op die dag van sy verdwyning op die plaas Welgeluk buite Oudtshoorn gesien.
Hy het ten tye van sy verdwyning ’n swart hemp en broek gedra.
Enigiemand met inligting oor waar Everts hom bevind, word gevra om kapt Deon Bouwer te kontak by sel 082 469 7642, of die speurderskantore by tel 044 274 4400. (Deur Liesel le Roux)
Waar is ons seun?
