Saak teen oud-verpleegster op klagte van poging tot moord van rol geskrap

DIE saak teen ’n voormalige werknemer van die Mediclinic Klein Karoo op Oudtshoorn wat van poging tot moord op ’n 18-jarige meisie aangekla word, is Dinsdag (1 Februarie) in die Oudtshoorn Landdroshof van die hofrol geskrap.

Die 60-jarige Christina (Christa) Boshoff het glo op 25 Augustus 2021 na die jong pasiënt se kamer gegaan waar sy die meisie se gesig en bobeen na bewering met ’n skerp voorwerp gesteek het.

Sy was nie tydens die voorval aan diens nie.

Volgens die Polisie het die verdagte die betrokke aand na bewering omstreeks 19:00 die pasiënt se saal binnegegaan.

Sy het op 30 Augustus verlede jaar vir die eerste keer in die hof verskyn en is op waarskuwing vrygelaat.

Volgens die staatsaanklaer, Thuba Nyamate, is die saak slegs voorlopig deur landdros Ntom­bizandile Maseti van die hofrol verwyder omdat daar nog geen besluit tot dusver geneem is oor wanneer die saak in die streekhof verhoor sal word nie. (Deur Garnett Wicomb)