DAAR het Dinsdagoggend niks gekom van twee mosies van wantroue wat raadslid Mlandleli Nyuka van Suid-Kaap Saamstaan voor die raad wou laat dien nie.
Dié mosies, die een in die Groter Oudtshoorn se onderburgemeester, Vlancio Donson van Icosa, en ’n ander in die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, was punte op die agenda van die raadsvergadering.
Die partye wat Nyuka en Donson verteenwoordig, Suid-Kaap Saamstaan en Icosa, is deel van ’n veelpartykoalisie wat die Groter Oudtshoorn sedert die 2021-verkiesing beheer.
Nyuka, een van Oudtshoorn se nuwe raadslede, is lid van die burgemeesterskomitee en in beheer van die protefeulje gemeenskapdienste wat onder meer die dorp se verkeersdienste, behuising, skoonmaakdienste, swembaddens, parke en oorde beheer.
Volgens die agenda sou die mosies eers by die vergadering uitgedeel word en tot stemming gebring word terwyl die vergadering “in komitee” is.
Wanneer ’n raadsvergadering “in komitee” is, mag die media en die publiek dit nie bywoon nie.
Volgens die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, is die mosies egter Dinsdag deur Nyuka teruggetrek in ’n brief aan die raad en kon die mosies ingevolge ordereëls van die raad nie dien nie. (Deur Liesel le Roux)
Niks kom van dié mosies wat voor raad sou dien nie…
