Tweede munisipale werknemer in een week oorlede

Martin Conradie was die tweede werknemer van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit wat verlede week oorlede is. Foto verskaf

“ONS gaan hom baie mis en sal hom onthou vir sy aansteeklike glimlag en nederigheid,” sê Sinovuyo Mgqweto, toesighouer van Martin Conradie wat Vrydag (5 Februarie) oorlede is.

Conradie was die tweede werknemer van die Oudtshoorn Munisipaliteit wat binne ’n week oorlede is.

Hy het by die munisipaliteit se afdeling tegniese dienste gewerk.

Nog ’n werknemer, Mashilino May (31), het die Woensdag in ’n botsing gesterf (berig bo).

Mgqweto sê sy het hom geken sedert hy in 2017 by die munisipaliteit begin werk het en leer ken as ’n toegewyde en betroubare werknemer wat altyd passievol was en gretig om te leer.

Die burgemeester, Chad Louw, en die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, het hul innige meegevoel met Conradie se familie en geliefdes betuig.