Vinnige optrede deur polisie lei tot twee inhegtenisnames

VINNIGE optrede deur die Oudtshoorn Polisie het die afgelope twee weke gelei tot die spoedige inhegtenisname van verdagtes vir onderskeidelik beweerde dwelmhandel en roof.

Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die polisie, het die eerste inhegtenisname Maandag 31 Januarie om 14:00 op die George-pad plaasgevind. ’n 32-jarige man is op ’n aanklag van roof in hegtenis geneem.

Michaels sê die 50-jarige klaer en twee ander mans was in ’n bakkie vanuit George se rigting op pad na Oudtshoorn, met die twee mans agterop, toe die verdagte die klaer van sy kontant en selfoon beroof het.

Volgens Michaels het die klaer by ’n vulstasie stilgehou waar die verdagte afgespring en weggehardloop het. Hy is kort daarna in Dassieweg deur die polisie in hegtenis geneem. ’n Polisievangwa was in daardie stadium in die nabyheid en kon daarom vinnig reageer.

Die verdagte het die volgende dag reeds in die hof verskyn.

In die tweede insident, op Dinsdag 1 Februarie, is ’n 29-jarige verdagte omstreeks 10:45 op Unieplein by die taxistaanplek in hegtenis geneem vir die besit van dwelms.

Volgens Michaels het die polisie inligting van die publiek ontvang oor ’n persoon wat moontlik dwelms in sy besit gehad het.

Die taxi waarin die man was, is volgens Michaels deur die polisie afgetrek, en 56 sakkies of “bankies” Tik en drie Mandrax-tablette is by hom gevind. (Deur Stefan Skapie Goosen)