Geweld van botsing stuur skokgolwe deur gemeenskap

Die wrak van die Polo na ’n botsing wat verlede week die lewens van twee Oudts­hoorniete geëis het.

Mashilino May (31, heel links) and Ashley Meyer (31, links) wat in die botsing gesterf het. Foto’s verskaf

DIE geweld van die botsing waarin twee jong vriende van Oudtshoorn verlede Woensdag (2 Februarie) op slag dood toe is toe ’n silwer Polo die pad verlaat en ’n boom langs die N12 tussen Oudts­hoorn en De Rust getref het, het skokgolwe deur die dorp gestuur.

Die botsing het die Polo om die boom laat vou, en reddingswerkers moes die voertuig van die boom aftrek en daarna die dak afsny voordat die oorledenes uit die wrak gehaal kon word.

Die oorledenes was Mashilino May (31) and Ashley Meyer (31). May was ’n werknemer van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit.

“Ons is almal baie hartseer en geskok oor die dood van een van ons kollegas,” het die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chad Louw, verlede Donderdag gesê. “Ons innige meegevoel met sy ma, pa, vier broers en suster.”

May het as arbeider in die skoonmaakafdeling van die afdeling Gemeenskapsdienste by die munisipaliteit gewerk. Volgens ’n verklaring van die munisipaliteit was hy nederig en saggeaard en het hy altyd sy werk met geesdrif gedoen.

Sers Christopher Spies, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, sê die botsing het omstreeks 15:45 plaasgevind.

“Volgens inligting beskikbaar het die Volkswagen Polo in die rigting van De Rust gery toe dit die pad verlaat het. Die twee insittendes, albei van Oudtshoorn, is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

“Die oorsaak van die botsing maak deel uit van die polisieondersoek.” (Deur Liesel le Roux)