Stefan Skapie Goosen wat met klippe gegooi is.
’N BOTSING tussen ’n polisievangwa en ’n Ford Bantam-bakkie waarin onder meer ’n ma en haar gestremde kind passasiers was, het verlede Donderdag (3 Februarie) vinnig ’n groot skare mense gelok wat in stadiums rumoerig geraak het terwyl ’n joernalis van Die Hoorn in ’n stadium onder die klippe gesteek is.
Die botsing het omstreeks 14:45 op die N12 by die eerste afdraai na Rosevalley – ’n woonbuurt by die ingang na Oudtshoorn vanaf Dysselsdorp – plaasgevind. Die polisievoertuig het die Bantam-bakkie links voor getref.
Celeste Kerspuy en haar gestremde kind was twee van minstens vier beseerdes in die bakkie.
Kerspuy was Vrydag (4 Februarie) steeds in die Oudtshoorn Hospitaal met ’n gebreekte enkel.
Sy het Woensdag (9 Februarie) gesê sy sterk nou by die huis aan, en het steeds baie pyn.
“Ek gaan nou ses weke moet wag, dan wil die dokters kyk of die been reg aangegroei het. As dit nie teen daai tyd beter is nie, sal hulle moet opereer,” sê sy.
Volgens Kerspuy is haar jong seun se neus in die botsing beseer en het dit begin bloei. Omdat hy aan epilepsie ly, het hy ’n aanval op die botsingstoneel gekry.
“Hy is egter nou baie beter,” het sy gister gesê.
Sy sê sy was saam met twee familielede, haar kind en nog ’n kind agter in die bakkie, met haar oupa en ouma voor in die bakkie. Haar oupa het bestuur.
“Ons het van die dorp af gekom, en voor my oupa na Rosevalley wou indraai, het hy gestop om seker te maak die pad is skoon. Ons kon almal sien die pad is skoon. Net toe hy draai, kom daai vangwa skielik aangery en tref ons.
“My neef is deur die venster gegooi, en hy het ’n gat in sy kop gekry,” vertel sy.
Volgens Kerspuy is al die beseerdes reeds tuis, en al het die meeste van hulle steeds pyn, sterk hulle aan.
Oproerige skare en ’n klipgooier
Met Die Hoorn se aankoms op die toneel was die insittendes van albei voertuie reeds deur noodreddingspersoneel na die hospitaal geneem, en het ’n groot groep inwoners daar saamgedrom.
’n Deel van die skare het die polisiebeamptes op die toneel daarvan beskuldig dat die polisievoertuig die oorsaak van die botsing was, maar die beamptes het die vrede bewaar en daar was klaarblyklik geen optrede teen inwoners nie.
’n Tiener het skielik uit die bloute klippe na Die Hoorn se joernalis op die toneel, Stefan Skapie Goosen, begin gooi.
Hoewel die tiener gevra is hoekom hy dit doen, het hy net voortgegaan om klippe op te tel en te gooi.
Minstens een klip het heeltemal gemis, ’n ander het Goosen se kop net-net gemis, en een het hom op die maag getref.
“Ek het op die tiener begin afstorm om hom te probeer afskrik, maar nadat hy my op die maag raakgegooi het, het hy weggehardloop,” sê Goosen, wat ’n blou kol op sy maag oorgehou het.
“Die inwoners om my is gelukkig nie raakgegooi nie, want hulle kon ook maklik getref word. Van hulle het my probeer beskerm en vir die tiener gesê om my uit te los.”
Klagte van roekelose en nalatige bestuur
Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, ondersoek die Polisie ’n klag van roekelose en nalatige bestuur.
“Die bestuurder van die Bantam-bakkie het na bewering uit Oudtshoorn se rigting gekom en wou na Rosevalley indraai,” sê Michaels.
Dit is toe dat die Bantam en die aankomende polisievoertuig gebots het.
Michaels sê die bestuurders van albei voertuie is lig beseer.
“Met die polisiebeamptes se aankoms op die toneel was die passasiers wat agterin die bakkie gesit het, reeds weg,” sê sy. (Deur Stefan Skapie Goosen en Liesel le Roux)
