Oudtshoorn se ‘Cat Lady’ byt vas ter wille van katte

Die toestand waarin Oudtshoorn se ‘Cat Lady’ sommige katte vind. (Foto’s verskaf.)

“DIT voel soms asof ek net wil opgee, maar ek weet ek kan nie – ek doen hierdie werk vir die katte. En as ek dit nie doen nie, wie gaan?”

So sê Lee-Ann van Sittert, Oudtshoorn se eie “Cat Lady”, wat reeds jare lank, sonder ophou of betaling, byna vrou-alleen omsien na die welsyn van nie net rondloperkatte op en om Oudtshoorn nie, maar ook die katte van mense wat weens hul omstandighede nie self na hul katte kan omsien nie.

Van Sittert – nes Elmarie Swiegers wat namens een van Oudtshoorn se dierewelsynorganisasies, Animal Care Team, dringend verlede week met Die Hoorn kom gesels het – sê dierewelsynvrywilligers doen werk waarvoor hulle geen dank of vergoeding kry nie, waarvoor hulle nie “amptelik aangestel” is nie, en dit alles uit die goedheid van hul harte.

“Mense kla maklik oor rondloper- of probleemkatte, of as katte seergemaak of doodgery word, maar dit voel soms asof niemand bereid is om self handop te steek en te help om die probleem aan te spreek nie,” sê sy. Sy sê mense wat katte het of aanneem, is soms ook skuldig en vererger die probleem.

Van Sittert sê wat die gemeenskap moet besef, is dat wanneer jy ’n kat gaan aanneem, of “rescue”, dit ’n lewenslange verantwoordelikheid word. “Jy moet na daardie kat omsien, dit laat inent, seker maak die kat het nie vlooie of bosluise nie, en seker maak dit is gesond. Die belangrikste is dat die kat ook gesteriliseer word, want hoe meer katte daar in die gemeenskap is, hoe meer probleme word veroorsaak,” maan sy.

Volgens Van Sittert is haar nie-winsgewende dierewelsynorganisasie, die Cat Hotel, nie daar om om te sien na klein katjies van inwoners wie se katte kleintjies kry nie.

“Mense kom gee partykeer ’n hele boks kleintjies by my af, en verwag dat ek na hulle moet omsien en huisves – soms laai hulle die boks net voor my huis af!”

Hierdie katjies het dan kos en inentings, soms medikasie en huisvesting nodig, om nie eens te praat van sterilisasie nie.

Sonder die hulp en/of bydrae van die gemeenskap is dié taak soms onmoontlik.

“Ek wou al soveel keer opgee, nie weens die katte nie, maar weens mense. Hulle verwag van my dat ek moet ingryp, en dat ek alle ure van die dag en nag beskikbaar moet wees om hulle te help.

“Die Cat Hotel is nie ’n staatsinstansie nie. Ek, en soms ’n paar vrywilligers, gee ons eie tyd en probeer self nog werk ook om kos op ons eie tafels te sit,” vertel sy ontsteld.

Aan die hand van ’n voorbeeld verduidelik Van Sittert die probleem met rondloperkatte en ongesteriliseerde katte as volg: ’n kat kan tot drie werpsels van sowat ses katjies elk in ’n jaar kry; dus kan 20 sulke katte altesame 360 katjies per jaar die wêreld inbring. Dit is 360 katte waarna niemand omsien nie, en wat dan self verder voorplant.

“Dink nou net wat gaan met die katbevolking gebeur as ons nie die probleem aanspreek nie, en hoeveel probleme dit kan veroorsaak?”

As deel van haar welsynswerk probeer Van Sittert rondloperkatte ook vang en steriliseer, maar hiervoor het sy fisieke en finansiële hulp nodig. Dit is buiten die ander werk wat sy met katte doen. “Ek kan ook net so ver help,” sê sy.

Van Sittert pleit by die gemeenskap om hand by te sit en om waar moontlik met enige hulp in te spring. “Dit is moeilik om hierdie dienste vir die gemeenskap aan te bied sonder hulp, of selfs minimale hulp van mense wat wel probeer bydra. Soms word ons deur die gemeenskap gevloek en geskel, of hulle verwag bloot net te veel van ons. Dit raak ’n onmoontlike veldtog, maar ek is steeds vasbeslote om te help waar ek kan, want ek wil die katte én die gemeenskap bystaan.” (Deur Stefan Skapie Goosen)