Beminde onnie lê tuig neer ná 41 jaar by Sacred Heart

Jonathan Wicomb, wat op Maandag 31 Januarie 2022 as adjunk-hoof van Sacred Heart Primêr afgetree het, stap op ’n rooi tapyt en deur ’n erewag van leerders. Foto: Garnett Wicomb

DIT gebeur nie aldag dat ’n onderwyser sy hele onderwysloopbaan, 41 jaar, by een skool deurbring nie.

Wel dit is presies wat die adjunkhoof van die Sacred Heart Primêre Skool, Jonathan Wicomb, gedoen het.

Wicomb, wat sedert 1997 adjunk-hoof van die skool was, het op Maandag, 31 Januarie vanjaar, die skoolklok op sy laaste dag by die skool vir die laaste keer gelui.

En vir die afskeidsgeleentheid is die rooi tapyt vir hom uitgerol met leerders wat hom weerskante daarvan met pragtige dankiesêplakkate toegejuig het.

Wicomb het in 1980 aan die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland (OKSK) afgestudeer en die volgende jaar as jong onderwyser by die skool met sy onderwysloopbaan begin toe wyle Aäron Rensburg die skoolhoof was.

Hy is in 1995 bevorder tot departementshoof en twee jaar later tot adjunkhoof – ’n pos wat hy tot sy aftrede beklee het.

Hy het in 1996 ook ’n BA-graad verwerf.

Volgens Wicomb het hy deur die jare van tyd tot tyd ook as hoof waargeneem en was hy by alle fasette van die skool betrokke. In later jare was hy baie betrokke by die skool se Drummies en het spoedig as aankon-diger van formaat opgang gemaak.

Hy was aankondiger by talle plaaslike en streeksdrummie-kompetisies, later nasionaal en in 2018 as een van die aankondigers van ’n wêreldbyeenkoms in Kaapstad wat hy as ’n baie groot hoogtepunt beskou, en iets waarop hy baie trots is.

Volgens Wicomb beskou hy dit as ’n eer en groot voorreg om betrokke te kon wees in die vorming van duisende leerders wat deur sy hande gegaan het.

“Ek het altyd die kinders aangemoedig om hard te werk sodat hulle meer as ek kan verdien,” sê hy.

Sy groot bekommernis vandag is egter die groot aantal kinders wat langs die pad verlore raak deur nie verder skool te gaan nie.

Hy sal die skool waarvoor hy so lief geword het natuurlik mis, maar sien daarna uit om sy aftrede te geniet.

Hy sê hy wil eers bietjie rus en die skool uit sy gestel kry voordat hy en sy vrou, Marita, wil rondreis en meer by hul kinders en veral die kleinkinders, te gaan kuier.

Laastens, voeg hy by, wil hy natuurlik voortgaan met sy betrokkenheid by sy kerk.

Die hoof van Sacred Heart vir die afgelope agt jaar, Godfrey McCallum, sê hy sal Wicomb onthou vir die streng dissipline wat hy gehandhaaf het, sy pligsgetrouheid en sy passie vir die onderwys.

“Wicomb was reguit en eerlik met almal en ’n mentor vir jong onderwysers en onderwyser-assistente,” sê McCallum.

Die personeel van Sacred Heart skryf op Facebook dat hulle hul adjunkhoof baie, baie sal mis, veral vir sy ondersteuning, sy besondere sin vir humor, dat hy ’n “bok vir sports” is en sy raakvat-eienskappe. (Deur Garnett Wicomb)