Vyf dae se Klein Karoo Klassique hier!

Bo: Twee bekende pianiste van die Groter Oudtshoorn, Sulayman Human (links) en John Theodore, wat Maandag by Klein Karoo Klassique te sien is. Foto verskaf

Die skrywer en Oudtshoorniet adv Pieter van Wyk (middel) wat Saterdag om 12:00 oor sy boek Tussen twee vure, gesels. Hier is hy tydens die bekendstelling van sy boek in Mei saam met Nicole Stassen (links, eienaar van Protea Boeke) en Hannes Visser van Turksvy Publikasies. Foto verskaf

VANJAAR se Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se winterfees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn en vanjaar ook boeke, skop Vrydagaand om 19:00 op Oudtshoorn af met die Klassique Gala-konsert in die ouditorium van die Oudtsdhoorn Burgersentrum.

Vanjaar se fees, wat die 13de keer op Oudts­hoorn plaasvind en 13 musiekkonserte aanbied, loop Dinsdag ten einde.

Die Burgersentrum is vanjaar die hart van die fees, met 12 van die 13 konserte wat in die ouditorium aangebied word.

Van Saterdag tot Maandag vind daar ook daaglikse visuele kunsrondleidings (om 13:00) asook boek- en musiekgesprekke in die Banketsaal plaas.

Die visuele kunsrondleidings, boek- en musiekgesprekke is gratis.

Die volle feesprogram is aanlyn beskikbaar by https://kknk.co.za/klein-karoo-klassique/

Dié Oudtshoorn-skrywer en twee pianiste ook op feesprogram
Vir die eerste keer vanjaar neem drie skrywers ook deel aan Klein Karoo Klassique – die Hertzogprys-wenners Ingrid Winterbach en Johan Myburg en die Oudtshoorniet adv Pieter van Wyk.

Die boekeredakteur Elna van der Merwe gesels Saterdag om 12:00 met Van Wyk wat na 27 jaar met die rang van kaptein uit die polisie getree het en die afgelope jare ’n regspraktyk op Oudtshoorn het.

Sy pad in die polisie loop deur die apart­heidsjare van Laingsburg in die 1980’s na die uitdagings van Soweto en later die oorgang na ’n nuwe demo­kratiese bestel. Sy debuutroman, Tussen twee vure, wat vroeër vanjaar verskyn het, word beskryf as ’n aangrypende debuut.

Behalwe vir Van Wyk sal twee baie bekende pia­niste van hier, Sulayman Human en John Theo­dore, ook by die fees optree. Hulle sal Maandag om 14:00 te sien wees in die produksie Suite Treats Variety in die Burgersentrum, en daarna om 15:00 by ’n musiekgesprek in die Banketsaal met fees­gangers in gesprek tree.

• Kaartjies vir die 13 musiekkonserte is aanlyn beskikbaar by Webtickets (www.webtickets.co.za), Pick n Pay-winkels regoor die land, of die KKNK-kantoor. Alle uitvoerings, tensy anders aangedui, word in die Oudtshoorn Burgersentrum aangebied. ’n Spesiale kaartjiepakket vir 11 van die 12 klassieke musiekuitvoerings is beskikbaar teen R1 300 of enkelkaartjies kan vir uitvoerings gekoop word. (Deur Liesel le Roux)