Vrywilligers woeker in Arbeidsgenot se tuin

Dr Edward Roelofse by een van die druiwepriële wat hy verlede week gesnoei het. Foto: Hannes Visser

Foto links: Arbeidsgenot, wat die tuiste van Langenhoven en sy vrou was. Foto: Hannes Visser en foto regs: Een van die vrugtebome by Arbeidsgenot wat waarskynlik deur Langenhoven en vroutjie geplant is. Foto: Christo Smit.

Behalwe vir die tuindienste wat Drylands by Arbeidsgenot lewer om die gras en tuin netjies te hou, is daar ook vrywilligers wat gereeld inspring om die tuin te versorg.

Maak Oudtshoorn Mooi se lede was verlede week weer daar om plante te snoei en ’n plantkundige het ingespring om die druiwepriële en vrugtebome onder hande te neem.

Dr. Edward Roelofse, ’n plantkundige van Stellenbosch, het verlede week besoek in Oudtshoorn afgelê en is deur twee lede van die Arbeids-genotkomitee genader om die priële en vrugtebome te snoei.

Roelofse het bevestig dat die oudste druiwe-stokke agter die huis waarskynlik deur Langenhoven en Vroutjie geplant is. Hy het ook ’n koejawelboom en twee groot vrugtebome wat vermoedelik perske of amandelbome kan wees, uitgewys en gesê hulle is beslis ook aan die begin van die vorige eeu geplant en dien tans as versiering aangesien hulle lankal nie meer vrugte dra nie.

Van die ander vrugtebome op die erf, het hulle einde bereik en daar word beplan om met verloop van tyd nuwe vrugtebome aan te plant om die lemoenboom wat twee maande gelede deur die Afrikanerbond geplant is, aan te vul.

Die Arbeidsgenotkomitee is in April gestig uit plaaslike inwoners wat Arbeidsgenot en die Neelsie-teater as besoekpunte bevorder. Met hulle vergadering Dinsdag 1 Julie, het hulle reeds moontlike funksies bespreek wat in Augustus en September by Arbeidsgenot en in Die Neelsie aangebied word.

Die volgende geleentheid wat by Arbeidsgenot beplan word, vind op 13 Augustus plaas ter viering van CJ Langenhoven se verjaarsdag. Hoërskole sal binne die volgende week genader word om aan die dag deel te neem.

Vir Erfenisdag in September word ’n skrywersdag vir hoërskoolleerders by die Neelsie beplan en die op Vrydag en Saterdag 26 en 27 September word plaaslike skrywers genooi om aan ʼn leesfees by Arbeidsgenot deel te neem om oor hulle eie skryfwerk te gesels. Daar word ook beplan om inwoners te nooi om stalletjies in die tuin op te rig sodat daar werklik fees gevier kan word.

Die oorhoofse bestuur, onderhoud en finansies van Arbeidsgenot word deur die direksie van die Langenhoven Gedenkfonds (LGF) behartig aan wie die Arbeidsgenotkomitee gereeld terugvoer gee. Die LGF is tans besig met die beplanning van dringende restourasie- en opkanppingswerk aan die gebou. (HANNES VISSER)