Borgtog is op Woensdag 25 Junie 2025 in die Oudtshoorn distrikshof geweier aan Jacques Roman (36) wat aangekla word van moord op die 39-jarige Lesley-Ann Jullies.
Jullies het in die vroeë oggendure van 2 Maart 2025 in The Godfather, ’n kuierplek in Voortrekkerweg, gesterf nadat sy na bewering met ’n glas gegooi is wat haar nek getref en sy doodgebloei het.
Die staatsaanklaer, Leandrie Visagie, sowel as die ondersoekbeampte, sers Sulemane, het borgtog vir Roman teengestaan.
Hulle het aangevoer dat hy ’n gewelddadige persoon is, en ’n gevaar inhou vir die gemeenskap.
Hy het ook twee hangende sake vir poging tot moord en aanranding om ernstig te beseer en het die vrylatingsvoorwaardes verbreek.
Roman se regsverteenwoordiger, Charl Malan, het dit aan die ondersoekbeampte gestel dat Roman nie ’n vlugrisiko is nie en tot dusver sy volle samewerking aan die polisie gegee het.
Volgens Sulemane het Roman die betrokke oggend die oorledene met die p-woord toegesnou en haar met ’n glas gegooi.
Toe sy val en bloei het hy oor die toonbank gespring, sy t-hemp uitgetrek en probeer om die bloeding te stop.
Die ambulans is ontbied maar Jullies is op die toneel deur paramedici dood verklaar. (GARNETT WICOMB)