Vry nadat appélhof beslissing omkeer

Richard Fransen, sy vrou Christelene en hulle twee dogtertjies. Volgens Fransen het die moeilike tyd waardeur hy is, sy huwelik net sterker gemaak.  Foto:  Louis Botha

Deur Angelique Erasmus
“DIS die soort situasie wat slegs in nagmerries voorkom – om onskuldig tronk toe gestuur te word vir iets wat jy nie gedoen het nie.”

So beskryf Richard Fransen (36), ’n voormalige munisipale amptenaar in Prins Albert, sy skuldigbevinding aan verkragting begin 2019 en sy vonnis van 10 jaar daarna in April.

Die appèlhof het egter die beslissing op 19 September omgekeer en Fransen vrygespreek.

Hy is die volgende dag, Vrydag 20 September, vrygelaat.

“Die oomblik toe ek die nuus kry, was dit ’n groot verligting en asof daar ’n groot las van my skouers af is,” vertel hy.

Met sy vrylating het sy vrou, twee dogtertjies van vyf en drie jaar, en sy ma vir hom gewag.

“Ek het hulle net styf vasgedruk,” sê Fransen. “Dit was ’n baie emosionele oomblik.”

Hy sê vandat hy tuis is, is sy kinders soos sy skaduwee en volg hulle hom oral rond.

“Ek is nou die gunsteling in die huis,” skerts hy.

Fransen, wat voorheen met jeugdiges van onder meer 57 skole gewerk het en kinders sekere vaardighede geleer het, sê hy ken die klaagster in die saak, wat een van die kinders was wat hy gehelp het, sedert 2013.

“Ek beskou die saak as iets van die verlede, en hoewel dit ongelooflik verne-derend was vir my en my gesin, en ’n groot impak op my werk gehad het, is ek nie verbitterd nie,” sê Fransen.

Die ses maande wat hy in die tronk was het hom geleer om een dag op ’n keer te hanteer, en sy gedagtes besig te hou deur te skryf en selfhelp-programme vir mede-gevangenis aan te bied.

“Ek glo dat jy ’n positiewe impak moet probeer maak, maak nie saak in watter situasie jy jouself bevind nie.”

Hy sê eers in so ’n situasie besef jy hoe belangrik fisieke kontak met jou geliefdes is, omdat jy nie aan hul kan raak in die tronk nie.

Hy het ook in die tronk ’n liefde vir skryf ontdek, en beoog om die 133 blad-sye met motiveringsgedagtes wat hy daar geskryf het, dalk later in boekvorm te publiseer.

“Hierdie ondervinding het my geleer om die storms van die lewe te oorleef en nie ’n slagoffer te word nie, maar eerder die beste van elke situasie te maak.”

Hoewel hy sy werk verloor het, is hy positief oor die toekoms en sal hy graag weer met die jeug wil werk en ook ’n motiveringspreker wil word.

“Ek is dankbaar vir my vrou wat my elke tree bygestaan het, en vir my suster wat nooit ophou veg het vir geregtigheid nie,” sluit hy af.

Volgens Christo van der Bergh, Fransen se regsverteenwoordiger, is sy kliënt baie dankbaar dat geregtigheid geskied het. “Daar was twee regters wat die klaagster se weergawe verwerp het en bevind het dat my kliënt se weergawe nog altyd korrek was, asook dat die klaagster die saak aangedik en my kliënt geviktimiseer het.”