Boeremusiek laat voete jeuk!

Die Sandvelders vermaak inwoners van Helen Bellinganhof. Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
INWONERS van verskeie ouetehuise asook Eljada Nasorg in Oudtshoorn is op 27 en 28 September met gratis uitvoerings deur vier boeremusiekorkeste bederf.

Die orkeste is deur die bekende plaaslike sanger en musikant Brian Nieuwoudt, ook bekend as Basjan, gevra om inwoners te vermaak met hul musiek. Sewe boeremusiekorkeste het op 27 en 28 September by die Grootvoël Boeremusiekfees op Oudtshoorn deelgeneem.

Die Sandvelders het Helen Bellinghanhof besoek, die Stoepsitters het die Oudts­hoorn Aftreeoord besoek terwyl die Kaap­land Boereorkes by Eljada Nasorg gaan kuier het.

Nieuwoudt en sy orkes, bekend as Brian Nieuwoudt se Karoo Boereorkes, het ’n draai by Tuishuis gemaak.

Die orkeslede het dié besoeke net soveel soos die inwoners geniet.

“Dit was vir Kaapland Boereorkes ’n besonderse voorreg om boeremusiek na Eljada te bring en te sien hoe daardie spesiale mense dit geniet,” sê Daantjie Kotze, orkesleier.

Buks Mostert van die Sandvelders sê dit is ’n besonderse hartservaring om vir bejaardes te speel.

“Volgende keer as jy daar kom, kan ’n stoel leeg wees of dalk is daar ’n nuwe gesig. Dit vat aan mens en dan besef jy hoeveel ons het om oor dankbaar se wees,” sê hy.

Volgens Pierre Groenewald, orkesleier van die Stoepsitters, tree hulle gereeld by tehuise op en lê bejaardes hulle na aan die hart.

“Dit was ’n belewenis om die mense van die Oudtshoorn Aftreeoord se gesigs­uitdrukkings te sien toe ons begin speel het.

“Wat ’n pragtige aftreeoord met pragtige inwoners en personeel!”