Dis skoumaand op Prins Albert!

Daar is vanjaar weer ’n groot verskeidenheid stalletjies by die Prins Albert-landbouskou.  Alle landbouskou-foto’s:  Marlene Malan

Die Prins Albert-landbouskou vind weer van 17 tot 19 Oktober plaas.

Die topsybokhaarboer Gay van Hasselt verduidelik by ’n vorige landbouskou hoe sy­bokke geskeer word.

Deur Marlene Malan
VAN 17 tot 19 Oktober is die skouterrein aan die onderpunt van Jan Louwstraat in Prins Albert weer in rep en roer wanneer nie net die prestasies op landbougebied in die Groot Karoo gevier word nie – in dié drie dae kom inwoners van die dorp en omgewing byeen om saam te kuier, saam te eet, saam na vermaakkunstenaars te kyk en luister en om te ontdek wat die groot verskeidenheid stalletjies in die uitstalsaal bied.

Die skou skop op Donderdag (17 Oktober) af met die GWK-veiling en die op-die-hoef-slaglam­kompetisie.

Oor die volgende twee dae vind die Dorper-, Merino- en Boerbokkampioenskap plaas en tree Prins Albert se landbougenootskap die eerste keer op as gasheer vir die NWKV (Nasionale Wol­kwekersvereniging) se spoedskeer-en-wolhante­ringskompetisie.

“Hierdie kompetisie gee aan die skeerders en wolhanteerders ’n platform waar hulle kan mee­ding en punte versamel om te kwalifiseer vir die jaarlikse Suid-Afrikaanse Skeer-en-Wolhante­ringskampioenskap by die Bloemfontein-skou in April volgende jaar,” sê Madri Rossouw, voorsitter van die Prins Albert-skoukomitee. “Na afloop van die kampioenskap by die Bloemfontein-skou word die topvyf skeerders en wolhanteerders gekies om Suid-Afrika oorsee te verteenwoordig. Dié soort kompetisie raak al hoe gewilder en dis ’n wonderlike geleentheid dat Prins Albert se skou, wat sentraal geleë is vir baie van die skeerders, vanjaar deel kan wees van die nasionale kompetisie.”

Op die vermaakfront is die gaskunstenaars Byron Minnie, Janine Fourie, Anton Oosthuizen en Colin Bower te sien. Een van die hoogtepunte is die besoek van die internasionaal bekende Mark Colli die Nar.

Hy gaan ook plaaslike skole besoek om leerders te vermaak.

Kindervermaak tydens die skounaweek word hanteer deur die privaatskool Christen Akademie en sluit in springkastele, die klim-en-klouter-speelpark, ’n tombolatafel en die aanbied van ’n kook­kunskompetisie wat Karoo-koekedoortjie heet.

’n Landbouskou is die ideale plek vir mededin­ging: Daar is ’n fantasiekostuumkompetisie (fancy dress) vir kinders, Mnr en Mej Skou word aan­gewys, en die toutrek-, skaaptel- en bokdrol­verspoegkompetisie gaan vir baie pret sorg.

Net ná die slaglamkompetisie word die beste slaglammers te koop aangebied. Die skou word die Saterdagaand met ’n potjiekoskompetisie afge­sluit. “Kom wys jul talente by die Windpomp-restaurant, of kom proe wat die potjiekoskonings gaan opdis!” sê Rossouw.

Volgens haar bied vanjaar se stalletjies ’n groot verskeidenheid. “Daar is iets vir almal se smaak. Kom maak dus ’n draai in die uitstalsaal en kies lekkernye wat jou smaak pas uit die Voerkraal-kombuis waar ons dorp se voorste sjefs die lekkerste geregte gaan voorsit.”

Navrae: GWK-veeveiling: Riaan Harding: 083 653 1230; Daan Schutte: 082 403 2239; Kobus Moolman: 083 624 4704. Stalletjies: Laetitia Mulder, palandbougenootskap@gmail.com. Algemeen: Madri Rossouw: ma3ross@gmail.com; 083 383 2591.

Annelene Bothma, een van die jaarlikse Prins Albert-landbou­skou se topprodu­sente van tuisgemaakte
produkte.

Madri Rossouw, die voorsitter van die Prins Albert-skou­ko­mi­tee.
Foto’s:  Marlene Malan