Stofdonkies – van Oudtshoorn tot by Vosburg

Ramona van Rensburg by haar 1980 Mercedes waarmee sy en Zwanai Botha Vosburg toe en terug gery het, kompleet met bosbokhorings en ’n geel plastiek-opblaasperd.
Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
’N GROEP avontuurlustiges, meestal van Oudts­hoorn maar ook van so ver soos Pretoria, is terug by die huis nadat hulle die grondpaaie tot op Vosburg platgery het!

Die groep, wat almal ’n groot belangstelling het in ou motors, het verlede Donderdag op hul jaarlikse Stofdonkietoer vertrek waartydens hulle gepoog het om soveel moontlik grondpaaie te ry tot by hul eindbestemming.

Volgens Ramona van Rensburg, wat die toer in haar 1980 Mercedes Benz aangedurf het, het hulle die 981 km van Oudtshoorn na Vosburg en terug oor vier dae afgelê.

Op die toer het hulle ook gepoog om so primitief as moontlik te leef.

Met hul aankoms in Vosburg Vrydag, is daar gedans en ’n steak-ete saam met die plaaslike boeregemeenskap geniet.

Die Saterdag het gesorg vir groot opwinding op die Vosburg-soutpan, waar die “Pan Fun”plaasgevind het en deelnemers tot groot vermaak van toeskouers deelgeneem het aan verskeie kompetisies, soos drag racing, gymkana en agteruit-ry.

Riaan van Rensburg sê die Stofdonkietoer is daar vir almal wat daarna smag om deel te wees van ’n grondpad-avontuur met ’n ou kar of bakkie. “Ons ontdek verlate grondpadroetes waar jy net kan stop en in die middel van die pad jou braairooster kan uithaal en ’n vuurtjie kan aansteek. Op so ’n tog ontmoet jy baie mense en bou kontakte op. So ’n toer lei altyd na ’n hoogtepunt soos ’n fees of ander gebeurtenis die Saterdag wat die hele ding opwindend maak.”

Die volgende Stofdonkietoer vind volgende jaar plaas. Hou die Facebookblad Stofdonkie Toer 2019 dop.

“Dit was baie lekker. Volgende jaar maak ons weer so!” sê Ramona.