Spekbome vir Spekkop!

Gr 4-, 5- en 6-leerders van Laerskool Laurus op Spekkop waar daar op groot skaal op 21 Oktober skoongemaak gaan word. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
VEERTIG lede van Laerskool Laurus se Lands-diensklub en personeellede van die skool gaan op Maandag 21 Oktober die bekende Spekkop op Oudtshoorn skoonmaak en ’n wandelpad daar maak.

“Spekkop beskik oor ’n unieke plantverskeidenheid en is een van die natuurskatte van die Klein Karoo,” sê die skoolhoof, Ronelle Huysamen. “Ons wil graag families die geleentheid gee om daar te gaan stap en die gebied te besigtig.”

Spekkop is volgens Huysamen in 1994 deur die parkekomitee van die Oudtshoorn Munisipaliteit tot ’n bewaarde gebied verklaar na landsdiensprojekte van Laerskool Oudtshoorn-Noord (Laerskool Laurus se vorige naam) en ander skole op die dorp. Leerders het saam met die Parkeraad en Natuurbewaring klippe gepak om toegang tot Spekkop vir voertuie te versper.

Huysamen sê die skoonmaak van Spekkop is belangrik vir Laerskool Laurus as eko-skool.

Die skool nooi die publiek om swartsakke by die skool af te gee as bydrae tot die projek.

“Ons wil ook graag vra of daar ’n persoon of instansie is wat sal kan help om die sakke te verwyder nadat ons die gebied skoongemaak het.

“Laurus glo dat die omgewing belangrik is, en daarom wil die skool die projek met oorgawe aanpak om so iets aan die gemeenskap terug te gee.”

• Kontak gerus die skool by tel 044 272 3946 vir meer inligting of om betrokke te raak by die projek.