Die bestuurder van die motor wat op 8 November verlede jaar op die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat gebots het met die motor van ’n jong onderwyser wat in die ongeluk dood is, het Maandag weer vlugtig in die distrikshof verskyn.
Samantha Meyer word aangekla van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van alkohol.
Die ongeluk het die aand van 8 November 2024 plaasgevind toe haar Audi. A4 met die Volkswagen Golf van die 24-jarige Peter-John “Pokkels” Sauls, ’n onderwyser aan die PJ Badenhorst Primêre Skool op Dysselsdorp, gebots het.
Sy motor het uitgebrand nadat hy deur twee verbygangers uit die voertuig gehaal is, en hy is later op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Die staatsaanklaer, Leandrie Visagie, het die hof Maandag net na elf-uur gevra om die saak uit te stel toe die betrokke regsverteenwoordiger nog nie vir die saak opgedaag het nie.
Landdros Zuastrid Deyce het die saak daarna finaal vir ’n streekhofbeslissing tot 7 Mei uitgestel. Meyer is op waarskuwing. (GARNETT WICOMB)
Vrou weer in hof na dood van onderwyser
Peter-John “Pokkels” Sauls se voertuig in die agtergrond het uitgebrand nadat dit deur ’n Audi A8 getref is in November 2024. Foto: Hannes Visser