’N VROU van Oudtshoorn wat meer as R120 000 van haar werkgewer gesteel het, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof aan diefstal skuldig bevind en vir drie jaar onder huisarres geplaas nadat sy ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan het.
Louise Malgas (43) het erken dat sy op 18 Maart vanjaar buitelandse geld ter waarde van R121 000 van haar werkgewer, Paul Swarts, gesteel het. Sy was besig om sy kantoor skoon te maak toe sy die kluis se sleutels op ’n tafel sien lê het en besluit het om dit oop te sluit.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dat die klaer inskiklik was ten spyte van die groot verlies wat hy gely het deur ’n klein bedrag van die gesteelde geld van die beskuldigde terug te verwag.
“Die beskuldigde was in ’n vertrouensposisie en is aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind. Sy het egter berou getoon deur skuldig te pleit en is ’n eerste oortreder,” het die landdros gesê.
Malgas is volgens die ooreenkoms tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is, asook drie jaar korrektiewe toesig. Dit behels onder meer dat sy slegs haar huis mag verlaat vir werk- en kerkdoeleindes.
Sy is ook gelas om R30 000 aan die klaer terug te betaal. Sy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Nadia Arnolds was die aanklaer en adv Stephen Lourens het namens Malgas opgetree. (Deur Garnett Wicomb)