Gemeentelede getuig in saak teen pastoor

DIE verhoor van Stephanus Olivier, pastoor van die Oudtshoorn Pinkster Protestante Kerk (PPK), wat teregstaan op 37 aanklagte van ’n seksuele aard, is Dinsdag 5 Oktober in die streekhof ná die getuienis van verskeie gemeentelede tot Desember uitgestel.

Die eerste getuie, pastoor Andrew Wagenaar, het getuig dat hy en die Olivier-egpaar sedert 2007 kennisse is en dat hy in 2010 as pastoor van die kerk ingehuldig is.

Hy het onder andere getuig van ’n vergadering by die kerk in 2018 toe die eerste klaer, wat deur die beskuldigde en sy vrou soos hul eie kind grootgemaak is, George toe wou trek en die beskuldigde haar R5 000 gegee het om met haar kostes te help dek.

Sy het in ’n brief, wat tydens die vergadering by die kerk voorgelees is, geskryf dat die beskuldigde en sy vrou haar glo nooit fisiek, seksueel of emosioneel aangerand het nie. Sy het ook geskryf dat niemand haar gedwing het om die brief te onderteken nie.

Wagenaar het onder kruisverhoor van die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, getuig dat hy nooit van die beweerde verkragtings gehoor het nie en het ook ontken dat daar ’n wit bedjie in die kinderkamer by die kerk was soos wat een van die klaers beweer het.

Wagenaar se vrou, Lorna, het getuig dat sy ook sedert 2007 by die kerk betrokke is maar nie huisvriende van die Oliviers was nie. Sy was ook nie bewus van die beweerde aanklagte teen die beskuldigde nie.

Sy het getuig dat die eerste klaer op ’n dag in 2017 in die kombuis van die Oliviers vertel het dat sy nie wou terugkom Oudtshoorn toe nie omdat sy nie na die huis wou kom waar sy verkrag is nie.

Die klaer het haar en die beskuldigde se vrou die dag meegedeel dat haar voormalige kêrel haar in die huis verkrag het en dat die beskuldigde se skoondogter haar glo geforseer het om te sê dat dit die beskuldigde was. “Pappa het my nooit verkrag nie,” het sy glo aan die getuie gesê.

Sy het onder kruisverhoor getuig dat sy nie kan onthou of sy haar man onmiddellik daarvan vertel het nie.

“Ek was baie geskok. Miskien het ek dit later gedoen. Ek kan nie onthou nie.”

Die staatsaanklaer het dit aan Wagenaar (Lorna) gestel dat die eerste klaer ontken dat sy so iets aan haar vertel het.

Nog twee lidmate, Gertina Jonkers en Franciska Sauer, het getuig oor hul betrokkenheid as vrywillige werkers by die kerk en oor die sleutels van die kerk se babakamer waar die eerste klaer glo deur die beskuldigde verkrag is.

Olivier staan tereg op drie klagtes van verkragting en vier van seksuele aanranding van twee minderjariges in 2013 toe hulle onderskeidelik 13 en 14 jaar oud was, asook 30 klagtes vir die besit van kinderpornografie. Hy pleit onskuldig.

Sy regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het die hof om uitstel vir die getuienis van nog drie verdedigingsgetuies gevra wat nie tans beskikbaar is nie.

Die saak word deur streek-landdros Daniel Boks aangehoor en is uitgestel tot 14 Desember. Olivier se borgtog van R10 000 en borgvoorwaardes is tot dan verleng. (Deur Garnett Wicomb)