
Inwoners vergaap hul aan die vlamme. Sommige het selfs op die heining geklim om te sien
hoe die brand bestry word. Foto: Stefan Skapie Goosen
NIE net die Oudtshoorn Munisipale Brandweer-dienste nie, maar ook dié van Mosselbaai en George, sowel as die Infanterieskool se brandweerdienste en selfs inwoners met hul eie waterkarre, moes Dinsdag (12 Oktober) inspring om ’n brand wat by PSP Timbers op Oudtshoorn ontstaan het, te blus.
Met die wind en warm weer wat moontlik bygedra het tot die verwoesting van PSP se voorraad en eiendom, is die brand uiteindelik ure later onder beheer gebring. So ver vasgestel kan word is niemand beseer nie, al moes kantore ontruim word.
Volgens Adel Supra-Vertue, Oudtshoorn se bestuurder: brand, redding en rampbestuur, is die ander brandweerdienste ingeroep weens die grootte en intensiteit van die brand. Sy het gister (Woensdag) bevestig dat die brand steeds aktief is, maar dat dit wel onder beheer is en deur brandweerpersoneel dopgehou word.
“Hulle sal op die toneel bly werk totdat dit heeltemal onder beheer gebring is. Ons is baie dankbaar teenoor almal wat tot dusver gehelp het,” het sy gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)