’N MAN van Gamka-Wes in die Calitzdorp-distrik wat aan poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind is, is op 22 September in die Oudtshoorn-streekhof effektief tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis.
Dawid Hufke (42) het op 14 Februarie 2019 sy suster, Susan Hufke, met ’n mes gesteek en haar kêrel, Jullie Toks, met ’n panga gekap.
Hy het onskuldig gepleit en beweer dat Toks hom wou skiet en hy die vuurwapen by hom wou afneem.
Toks se vinger was op die sneller toe ’n skoot in die stoeiery afgegaan het.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Hufke nie ’n eerste oortreder is nie, homself weerspreek het en vier weergawes van gebeure gegee het. “Hy was nie eerlik met die hof nie,” het Smith gesê.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Hufke se getuienis as vals verwerp. Volgens haar was sy suster en Toks nie ’n bedreiging vir hom nie. Sy het ook daarop gewys dat hy geen berou toon nie en tot die einde alles ontken het ten spyte van oorweldigende getuienis.
Toks is boonop verlam en in ’n rolstoel, en vir die res van sy lewe afhanklik van ander se genade.
Die hof het bevind dat Hufke se vorige vonnisse hom nie laat rehabiliteer het nie en dat hy daarom lank tronk toe moet gaan om goed oor sy foute na te dink en as ’n beter mens terug te keer na die gemeenskap.
Hufke is onderskeidelik drie en tien jaar tronkstraf opgelê wat samelopend uitgedien kan word, en ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)