Dit was moord, nie selfverdediging nie, beslis hof

’N VROU van Matjiesrivier in die Oudtshoorn-distrik, is in die streekhof aan moord op haar kêrel en pa van hul tweejarige kind skuldig bevind nadat die hof haar verweer dat sy haarself verdedig het, verwerp het.

Christolene Swartbooi (25) het getuig dat die oorledene, Christopher Ewerts (26) haar van ontrouheid verdink het en die aand van 25 Januarie 2020 haar met sy vuiste in haar gesig en maag geslaan het. Hulle was al twee onder die invloed van drank en sy het terugbaklei.

Volgens haar het Ewerts sy Okapi-mes uit sy sak gehaal om haar te steek, maar iemand het dit by hom afgeneem. Hy het glo ’n tweede keer ’n mes op ’n tafel gegryp, wat ook by hom afgeneem is. Nadat Ewerts haar aan haar klere vasgehou het, het sy dit reggekry om haarself los te woel en ’n tweede mes wat op die tafel gelê het, gevat en Ewerts twee keer gesteek.

Die eerste steek was mis en die tweede het hom noodlottig gewond.

Anna Pieterse (65) het getuig dat sy die bakleiery dopgehou het met die kind in haar arms. Volgens haar het sy gehoor Ewerts sê dat hy die beskuldigde nie sal los voordat hy haar nie doodgemaak het nie.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het dit aan Swartbooi gestel dat sy nie uit noodweer opgetree het nie. Ewerts was nie gewapen toe sy hom ge-steek het nie en haar lewe was dus nie in gevaar nie.

“Na aanleiding van die beskul-digde se eie weergawe het sy die perke van selfverdediging oorskry. Haar getuienis in die hof verskil ook van haar polisieverklaring,” het Smith gesê.

Swartbooi se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het betoog dat sy geregtig was om haarself teen Ewerts te verdedig.

Hy het die hof versoek dat indien sy die perke van noodweer oortree het, sy hoogstens aan strafbare manslag skuldig bevind sal word omdat dit duidelik is dat sy haarself verdedig het.

Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat Swartbooi nie uit selfverdediging opgetree het toe sy Ewerts gesteek het nie.

Sy het ook bevind dat Swartbooi leuens in die hof vertel het en dat die twee staatsgetuies geen rede gehad het om haar valslik te beskuldig nie.

“Die oorledene was ongewapen toe hy deur die beskuldigde met geweld in die bors gesteek is. Sy het die perke van noodweer oortree en word skuldig bevind aan moord met direkte opset,” het die landdros afgesluit.

Vonnisoplegging is vir ’n voorvonnisverslag uitgestel tot 26 Oktober en Swartbooi se borgtog van R500 is op versoek van haar regsverteenwoordiger tot dan verleng. (Deur Garnett Wicomb)