Vrou van Matjiesrivier tien jaar tronk toe vir moord

’N VROU van Matjiesrivier in die Oudtshoorn-distrik, wat aan moord op haar kêrel en pa van hul tweejarige kind, skuldig bevind is, is Maandag (7 Februarie) in die Oudtshoorn Streekhof vir tien jaar tronk toe gestuur.

Christolene Swartbooi (25) het getuig dat die oorledene, Christopher Ewerts (26), haar van ontrouheid beskuldig het en die aand van 25 Januarie 2020 met sy vuiste in haar gesig en maag geslaan het.

Hulle altwee was onder die invloed van alkohol en sy het terugbaklei.

Volgens haar het Ewerts later sy Okapi-mes uit sy sak gehaal om haar te steek, maar iemand het dit by hom afgeneem.

Hy het glo ’n tweede keer ’n mes op ’n tafel gegryp wat ook by hom afgeneem is.

Nadat die oorledene haar aan haar klere vasgehou het, het sy in ’n stadium losgekom en ’n tweede mes wat op die tafel gelê het, geneem en twee keer na Ewerts gesteek.

Die eerste hou was mis en die tweede het hom in die nek getref.

Anna Pieterse (65) het getuig dat sy die bakleiery dopgehou het met Swartbooi se kind in haar arms. Volgens haar het sy gehoor Ewerts sê dat hy die beskuldigde nie sal los voordat hy haar nie dood­gemaak het nie.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het dit aan Swartbooi gestel dat sy haar weergawe van gebeure fabriseer en nie uit noodweer opgetree het nie.

Ewerts was nie gewapen toe sy hom gesteek het nie en haar lewe was dus nie in gevaar nie.

“Na aanleiding van die beskuldigde se eie weergawe het sy die perke van selfverdediging oorskry. Haar getuienis in die hof verskil ook van haar polisieverklaring,” het Smith gesê.

Swartbooi se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het betoog dat sy geregtig was om haarself teen Ewerts te verdedig en hoogstens aan strafbare manslag skuldig bevind kan word omdat dit duidelik is dat sy haarself verdedig het.

Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat Swartbooi nie uit selfverdediging opgetree het toe sy Ewerts gesteek het nie.

Sy het ook bevind dat Swartbooi leuens in die hof vertel het en dat staatsgetuies geen rede gehad het om haar valslik te beskuldig nie.

Die landdros het bevind dat Swartbooi aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is.

“Die oorledene was ongewapen toe hy deur die beskuldigde met geweld in die bors gesteek is.

“Die beskuldigde het geen respek vir ’n mens se lewe getoon nie, en toon ook geen berou nie. Sy het geen rede gehad om ’n mes te gryp nie.”

Die hof het afgewyk van die minimum vonnis van 15 jaar vir moord omdat Swartbooi ’n eerste oortreder is en daar wel ’n mate van provokasie tydens die voorval was. Die familie van die oorledene het ook ingestem om na die kind om te sien.

Sy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)