Man sterf tragies in Varkieskloof, Ladismith

Varkieskloof, waar ’n 35-jarige man gesterf het. Foto: Deon Meyer

DIE Ladismith Polisie het ’n moorddossier geopen nadat ’n 35-jarige man van Ladismith, Henry Hesqua, met sy lewe geboet het toe hy met ’n mes gesteek is.

Die voorval het Saterdag 5 Februarie omstreeks 18:00 in Varkieskloof, ’n informele woongebied in Nissenville, plaasgevind.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder vir die Suid-Kaap Polisie, dui ’n voorlopige ondersoek daarop dat die oorledene en ’n verdagte na bewering oor ’n meisie en drank gestry en dit in ’n bakleiery ontaard het.

Die oorledene is tydens die bakleiery in die lin­kerkant van sy bors gesteek en het op die toneel aan sy wonde beswyk.

Die verdagte is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op ’n Okapi-mes wat waarskynlik die moordwapen was.

Die 28-jarige verdagte sal eersdaags in die Ladismith Landdroshof verskyn op ’n klagte van moord. (Deur Deon Meyer)