Brits se vonnis wag tot April

DIE vonnisoplegging van die voormalige bestuurder van Kango Wyne op Oudtshoorn is Woensdag (2 Februarie) in die Oudtshoorn Streekhof, ná die voorvonnis-argumente van die staat en verdediging, tot 11 April uitgestel.

Johan Brits (54) is reeds in 2015 in die Oudts­hoorn Streekhof deur landdros Neels Nortje op 23 klagtes van bedrog en twee van die oortreding van die Wet op Drankprodukte skuldig bevind.

Die hof het bevind hy het ’n produk bekend as “ale” met wyn vermeng en dit onder ou etikette bemark, en ook seëls wat deur ’n beampte van die departement landbou aan wyntenks aangebring is, verwyder.

Sy hersieningsaansoeke in die hooggeregshof sowel as die appèlhof teen die weiering van ontslag aan die einde van die staat se saak, is van die hand gewys.

’n Kostebevel is ook deur die appélhof teen Brits gemaak.

Brits het self op Maandag 31 Januarie ter straf­versagting getuig dat die saak wat reeds langer as 12 jaar duur ’n geweldige impak op sy familie gehad het. Hy is ook deur ’n egskeiding, het hy getuig.

Volgens hom respekteer hy die beslissing van die streekhof alhoewel hy van mening is dat dit nie korrek was nie.

Hy het gesê dat hy verantwoordelikheid neem vir sy dade.

Voorts het hy aangevoer dat daar nie ’n goeie verhouding was nie tussen hom en die amptenaar van die departement landbou, wat die wyntenks verseël het nie.

Sy regsverteenwoordiger, adv Marthinus Bar­nard, het die hof vir ’n algehele opgeskorte vonnis gevra, terwyl die staatsaanklaer, adv Louis van Nie­kerk, die hof vir direkte gevangenisstraf gevra het wat volgens hom die enigste gepaste vonnis sal wees.

Volgens Barnard het Brits se optrede nie gelei tot die likwidasie van Kango Wyne nie.

“Daar is nie voldoende feite voor die hof om so ’n bevin­ding te kan maak nie,” het Barnard betoog.

Die staat voer aan dat Brits ten spyte van opdragte van die departement landbou voortgegaan het met ’n wanvoorstelling en die publiek mislei het.

Brits is uit op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)