Vrou skuldig wat handsak en beursie in middedorp roof

’N VROU van Rosebank wat saam met twee on­geïdentifiseerde mans ’n ander vrou van haar handsak en beursie met R1 100 daarin beroof het, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind. Vonnisoplegging is tot 24 Mei uitgestel.

Valencia Smit (23) se verweer dat sy nie die betrokke dag op Oudtshoorn was nie en die klaer, Anna Claassen, ’n fout begaan het deur haar te identifiseer, is deur die hof verwerp omdat sy nie kon verduidelik waar sy die betrokke dag was nie.

Volgens Claassen was sy onderweg na die taxi-staanplek op Unieplein toe sy in ’n gangetjie deur Smit en nog twee mans genader is. Smit het haar gegroet en na haar handsak gegryp wat toe deur een van die mans met ’n mes losgesny is.

Claassen het daarna in ’n taxi gaan sit, en ’n rukkie later Smit met haar handsak uit ’n taverne sien kom. Sy het Smit agtervolg en die handsak teruggeneem, maar kon nie die beursie met die geld kry nie. Smit se identiteitsdokument was in die handsak en Claassen het die saak by die polisie gaan aanmeld.

Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat Smit een van die mense was wat die klaer beroof het en nie die waarheid in die hof vertel het nie.

Smit se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof meegedeel dat Smit die ma is van ’n paar kinders en versoek dat die saak vir ’n voorvonnis- sowel as ’n korrektiewe toesigverslag uitgestel word. (Deur Garnett Wicomb)